| "Eeu
daba dottie". Dis wat gebeur wanneer Suid-Afrika se mees geliefde heks probeer
om "Een baba bokkie" in te tik op haar nuwe rekenaar. En soos meer as
30 jaar gelede toe sy in ons lewens ingevlieg het met haar lang swart punthoed
en haar sterretjieskombuis, identifiseer lesers van alle ouderdomme - van agt
tot agtentaggentig - steeds met haar. Dis natuurlik die vergeetagtige Liewe Heksie,
overgesetsynde ook bekend as Levinia Heks, Blommeland se enigste Heks wat so skaam
met haar toon in die grond kan boor. Nou
word Liewe Heksie "hi-tech" in ses nuwe stories deur die veteraan-skrywer,
Verna Vels. In "Liewe Heksie en die rekenaar"" maak Heksie kennis
met 'n rekenaar en dié se muis ("Dis 'n snaakse muis," lag Heksie.
"Waar is sy ogies en snorre?") Soos gewoonlik kom die moeilikheid na
Heksie toe en nie andersom nie, maar sy is en bly ons heldin der heldinne wat
net so 'n bietjie vergeet van kleure en nie eintlik weet van groot woorde nie.
Die bekende aartsvyande,
die Gifappeltjies en die Geelheks, wend soos gewoonlik pogings aan om die Silwerroos
te steel, maar in Liewe Heksie en die rekenaar raak sy ook slaags met Vickus Virus,
die rotbende en trolle. Al die ou bekendes is daar: Karel "Rondebolkeil"
Kat van die stad, Matewis en Blommie en natuurlik Koning Rosekrans, wie se naam
'n aantal interessante variante bygekry het ("Rosevirus, Rosedoedel"),
en die "Koningin-By". Ons maak ook kennis met die donkie (Doedel) wat
Heksie oortuig is dat sy getoor het. Na
vele boeke, televisiereekse, kassette en ook CDs bly Liewe Heksie nog net dieselle
- 'n groot bron van vreugde. En wat 'n ervaring was dit nie om op Aardklop vir
Verna Vels te hoor voorlees uit haar werk nie, die oënskynlik moeitelose
oorgang van die bekende nasale "Haai, oe, Blommie" tot die verontwaardigde
stem van "koning Rosevirus" is 'n kragtoer in enige taal. Die
bekende kunstenaar Piet Grobler se tekeninge is soos 'n vars briesie, of dan besem,
vir Liewe Heksie. En al is die teikenlesers eintlik dié vanaf vier tot
sewe jaar, is dié leser van nuuts af bekoor, soek ek haar naam onder die
Baie Belangrike Name van die vorige eeu. Het sy dan nie by uitstek ook my eeu
gevorm nie? Wat kan mens seg: die towerwoord is `Eeu daba dottie!' Jomarié
Dick is redaksionele assistent by "Insig" |