Dis
byna onnodig om 'n resensie oor 'n nuwe bundel Liewe Heksie-verhaaltjies te skryf,
want na 39 jaar is Liewe Heksie nog steeds haar ou, beminlike self. Sonder dat
sy wil, red sy nog steeds die kabouters van Blommeland uit allerhande penaries.
Maar Blommeland en Heksie hou tred met die tyd. Die penaries in hierdie bundel
is herkenbaar eietyds. Sy keer dat Blommeland se melkkoei in 'n depressie verval,
sit 'n rekenaarvirus koud, sorg dat 'n bedreigde padda-spesie bly voortbestaan
en vind 'n verlore donkie wat aan 'n straatparade op "die Karoofees"
moet deelneem.
Al die "ou" karaktertjies is weer daar: die
Gifappeltjies en die Geelheks, Karel Kat, Kwaaitjie, Matewis, Blommie
noem
maar op, en dan natuurlik ook Koning Rosekrans/virus/baard. Daar is in hierdie
bundel - glo dit as u wil - nóg nuwe variasies van die arme koning se naam.
Sommige "nuwe" karaktertjies steel die leser se hart, soos Botterblom
en Doedel en ander "nuwes" laat die leser se bloed kook, soos die Baas-Rot,
Rot-Rot en die aaklige ou, groot trol.
Heksie
se woordgebruik is so deel van haar soos haar een voortand en haar besem. Dit
verhoog weer eens die leesplesier van hierdie bundeltjie. Dit het my soms hardop
laat lag soos toe Heksie die ou groot trol op sy plek sit met: "Vir 'n groot
trollie het jy darem 'n lelike troonkamer." Doedel, die donkie wat Heksie
volgens haar getoor het, se naam gee Vels die geleentheid tot heerlike woordspel.
Doedel word in Heksie se mond "Toordonkie", "Doedelore", "Toordoedel"
en "Toor Ore" en hy bly in die "Kaalroo".
Die
nuwe bundel is pragtig uitgegee en ek kan sonder vrees vir teenspraak beweer dat
dit die mooiste Liewe Heksie-bundel is wat nog ooit verskyn het. Piet Grobler,
bekende kunstenaar en illustreerder van kinderboeke, se humoristiese sketse voeg
net waarde toe tot die karakterbeelding. Die tekeninge van Vickus Virus en die
rotte van die vreeslike rotbende het my veral geamuseer.
Koop,
lees en geniet. Dis bekend, maar dit bly bemind - en oorspronklik.
Human
& Rousseau ISBN 0 7981 3921 8