|
Die avonture van Magrietjie Swaaiboude is 'n boek wat beslis die
moeite werd is om op die boekrakke van kinders van vier tot tagtig
te hê. Avontuurlik, prettig en kreatief - 'n inspirerende
verhaal wat op die waarheid gebaseer is.
Wie is Magrietjie Swaaiboude? Sy hou daarvan om haarself mooi te
maak. Sy hou van aandag. Sy hou van kos - baie! Ja, sy is 'n vrou
. . . maar nie sommer enige vrou nie! Magrietjie Swaaiboude is die
bekendste meisie in George. Sy mag miskien 'n Labrador wees, maar
in haar hart is sy 'n mens. Nadat sy 'n paar jaar gelede 'n nasionale
kompetisie vir die oulikste hond in die land gewen het, aangebied
deur Kwêla op KykNet en Animal Talk, het sy feitlik 'n celebrity
geword in haar tuisdorp. Saam met Samuel en Blondie, haar kokketielvriende,
en haar baas, Phillip Kotze, werk sy elke dag hard in die gemeenskap
van George. Sy dra blomme aan vir siek mense, oorhandig diplomas
aan kleuters en poseer vir foto's. Daar is darem ook genoeg pret
en avontuur - 'n fliek, verjaardagpartytjie, plaasvakansie en treinrit
. . . en moenie vergeet van al die kere wat Magrietjie al vir Samuel
of Blondie moes red nie!
Marianna Brandt slaag in Die avonture van Magrietjie Swaaiboude
baie goed daarin om feite en fiksie op kreatiewe en oorspronklike
manier te vermeng. Die storielyn van die verhaal is interessant,
en die jonger leser sal voortdurend wonder wat volgende met die
karakters gaan gebeur. Veral die dierekarakters word dan ook sterk
en gevat uitgebeeld. Die humor en deernis waarmee die teks geskryf
is, maak dit verder ook 'n genot om te lees. Skryfmatig is daar
wel soms hinderlikhede in die teks, soos lomp sinskonstruksies en
foutiewe leestekengebruik. Dat dit egter 'n kreatiewe en vars teks
is, is nie te betwyfel nie. Tanja Joubert se illustrasies dra ook
by tot die pret en genot van die leeservaring. Die avonture van
Magrietjie Swaaiboude is 'n boek wat geniet sal word deur diereliefhebbers
en enigeen wat jonk van gees is.
Illustrasies Tanja Joubert
Human & Rosseau, Sagteband, Prys: R89.95, ISBN: 0 7981 4499
8
Anneretha Combrink
|