PURE
plesier is Marianna Brandt se Markus Stermuis op die Sojoes 3 . . . 2 . . .
1! Dit is 'n suksesvolle opvolg op haar trefferboek Die Stoutsterte waar 'n
muisfamilie die tog van Jan van Riebeeck uit Nederland na die Kaap meemaak, en
die leser 'n interessante klomp inligting rondom die boeiende VOC-geskiedenis
leer. Hierdie keer handel die storie oor die ruimtewetenskap en die verkenning
van sterre- en sonnestelsels. Soos Brandt met haar pittige dialoog en vertellings
die geskiedenis in Die stoutsterte laat herleef, slaag sy dié keer uitmuntend
daarin om die wetenskap op 'n treffende en opwindende wyse by die leser tuis te
bring. Jy leef jou so in die avontuur van die reis in dat jy nie eens weet dat
jy so deksels baie interessante dinge leer nie!
In Markus Stermuis word vertel hoe drie muise uit verskillende wêrelde bymekaar
aansluit om 'n droom te bewaarheid, naamlik om die eerste muise in die ruimte
te wees, maar om tog weer aan te sluit by hul onderskeie families en daarna met
hul gewone lewe voort te gaan.
Markus Grysmuis het in 'n reissak geklim en toe hy weer sy oë uitvee, is
hy in 'nvreemde land. Hy weet glad nie waar hy is nie, maar in 'n ontmoeting met
Joerie Muisenof, word hy ingelig dat hy in Rusland aangekom het en dat hulle saam
met ruimtevaarders by 'n ruimte-opleidingsbasis, Baikonoer, noord van Moskou is.
Hulle ontmoet die Italiaanse muis Viktori Kaasetti, wat ook in iemand anders se
bagasie daar aangekom het. Saam met drie ruimtevaarders is hulle gereed om met
die Sojoes die ruimte in te gelanseer te word. Hulle voorbereidings en planne
geskied in die geheim, maar is net so deeglik soos dié van die ruimtemanne.
Die feitlike
inhoud van die verhaal is noukeurig nagevors en baie inligting oor die verkenning
van die ruimte word op 'n interessante en natuurlike manier deel van die gegewe.
Op die ruimtereis met die driemanskap veilig aanboord, is daar heelwat avonture
wat hulle selfs verder neem as waarvan die ruimtemanne eers bewus is.
In die ruimtetuig ontmoet hulle 'n groen padda, Froggel, wat hul reis met verrassende
oomblikke vul, hulle leer om die behendigheid van Pommelina, die lappop, op die
rekenaar te vertrou, en ook die kalmte van Bephu, die teddiebeer, wat in die ruimtetuig
aandag vestig op navorsing rondom vigs. Die verhaal is gegrond op die ruimtereis
van Mark Shuttleworth, Yuri Gidzenko en Roberto Vittori na die internasionale
ruimtestasie in April 2002.
Brandt slaag daarin om met knap dialoog aan elke muis 'n eie identiteit te gee
deur kenmerkende gewoontes of woordjies in die verhaal in te werk wat eie aan
'n bepaalde nasionaliteit is. Só skep sy 'n wenresep wat feite met fantasie
verweef en die jong leser volledig in haar woordwêreld te betrek.
Tanja Joubert se swart-en-wit illustrasies is elke keer in die kol. Humor en verbeelding
kenmerk dié talentvolle illustreerder se werk.
Human & Rousseau, 2002 Amanda
Botha |