Die
masker van Yoruba is Marie Reyneke se derde avontuurverhaal vir ouer kinderlesers.
Theuns-hulle was ryk en gelukkig en hy was kaptein van die skool se onderwaterhokkiespan.
Maar Theuns se lewe verander onherroeplik toe hy saam met sy ma en suster as arm
onbekendes op Sandbaai in 'n klein strandhuisie moet gaan bly. Die intrige draai
kortliks om hoe Theuns by die nuwe omstandighede moet aanpas en sy menseverhoudings
met sy huismense en die nuwe vriende én vyande wat hy op Sandbaai maak
asook sy betrokkenheid by perlemoenstropery. Die situering van die roman
bied aan die leser 'n ingeligte blik op die wêreld van diepseeduik en die
smokkelhandel met perlemoen. Die fokus val veral op Theuns se verhoudings met
sy ma, sy sussie, Ras Payne en Jessie, die meisie bos wilde hare. Maar dis rondom
sy verhouding met sy pa wat fisies afwesig is wat Theuns met homself en sy lewenswaardes
gekonfronteer word. Die masker van Yoruba word die simbool van die lewenskwessies
waarmee Theuns spook: die materialisme en die keuse tussen reg en verkeerd. Dit
is jammer dat die roman weer van 'n beperkte omvang is. Dit laat die indruk van
oppervlakkigheid. Daar is genoeg potensiaal in die intrige, karakters (Suwwe Soois)
en menseverhoudings vir 'n meer volledige ontginning. Daar ís kinders wat
dikker boeke wil lees! Die masker van Yoruba is nietemin 'n welkome
toevoeging tot die klein variasie Afrikaans verhale vir ouer kinders. Dit bied
meer as net 'n spannende avontuurverhaal. Dit ontgin die kompleksiteit van mense
en menseverhoudings en verbeeld die noodsaaklikheid om keuses te maak. Die
masker van Yoruba. Marie Reynecke. Human&Rousseau. R59.95. ISBN 079814420 Maritha
Snyman
|