Die
eerste twee van die nuutste heruitgawes van die byna een eeue oue Maasdorp-reeks,
Die meisies van Maasdorp (1932) en Nuwe meisie op Maasdorp (1932)
beland op my lessenaar om te resenseer. Die kleurvolle, prettige retro-omslag
(sekerlik die heel mooiste uitgawe van Blakemore se bekende reeks) laat my lekker
kry. Daar's darem niks so mooi soos 'n mooi boek nie. "Die vere maak
nie die voël nie", betig ek myself, want ek weet van baie mense wat
bedenkinge het oor die besluit van Human & Rousseau om die boeke weer uit
te gee. Met 'n potlood in die hand, soos wat dit 'n resensent betaam,
begin ek die eerste een van die twee "nuwe" Maasdorp-boeke lees. Eers
Susan Booyens se insiggewende inleiding. Sy vertel van die aanhang wat die reeks
oor geslagte Afrikaanse lesers opgebou het en die lewensgeskiedenis van die relatief
onbekende Stella Blakemore wat self soos 'n storie lees. En toe begin ek
met die storie. My potlood werk hard. In die kantlyn skryf ek: "Identifikasie
met konteks?"; "Ma-dogterverhouding?"; "Moes die redigeerder
'standerd' na 'graad' verander het?"; "Die gebruik van die woord moeder?".
Na hoofstuk 2 skryf ek: "Perspektiefbreuk"; "Stem van die volwasse
verteller?"; "Rol van prefekte - opvoedkundig korrek?". By hoofstuk
3 staan daar: "Episodies - nie sterk sentrale spanningslyn nie"; "Sal
teikenlesers hou van naïewe karakters en verhaal?". En toe staan daar
niks verder nie. Die potlood se werk is op, want ek is ingesluk deur die
sjarme van die verhaal en die karakters van die Maasdorpskool. Ek lees verby die
moontlike besware tot by die laaste woord. Met die genoegdoening wat net 'n lekker
leeservaring kan bied, maak ek die boek toe. "Jy is oud en nostalgies,"
praat die stem van rede in my kop. "Wat sal vandag se kinders daarvan dink"?
En ek gee die boeke en 'n evalueringsvormpie vir die kinders wat veronderstel
is om die boeke te lees: dogters van graad 4 tot 7 en ook vir my matriekkind wat
die Maasdorp-reeks nog nooit gelees het nie. Op die vraag "Waarvan het jy
gehou?" skryf die lesers: "Van alles"; "Toe Kobie en Elsabe
vriendinne geword het"; "Toe Elsabe Kobie gaan help het in die dorp";
en op die vraag "Vir wie sal jy die boek aanbeveel?" skryf een leser
entoesiasties: "Vir al die meisies in die wêreld!". "Dis
regtig oulik", sê my gesofistikeerde, kritiese matriekdogter. "Ek
kon dit nie neersit nie." "Sela," sê ek vir die twyfelaars,
en ek dink aan Stella Blakemore se onbekende roman, Stryd om Peta wat ek by 'n
tweedehandse boekstalletjie raakgeloop het. Vuilblou, outydse linne hardeband.
Ek lees dit een Saterdagmiddag toe ek siek in die bed lê. En ek - middeljarige
vrou, geskool in die weë van die letterkundige kritiek, die resepsiestudie
en die vereistes van goeie jeugliteratuur - lees tot dit skemer word en ek skaars
meer kan sien. En ek wonder weer waarom dit so is? Wat is daar in Stella
Blakemore se boeke wat lesers so volkome wegvoer na die verhaalwêreld wat
sy skep? Toe dink ek aan die lysie oor implisiete leesbehoeftes by kinders wat
ek uit die teorie oor jeugliteratuur opgestel het. Boeke moet aan kinderlesers
die volgende verskaf : leesplesier, 'n gevoel van voldoening, emosionele veiligheid,
'n sekerheid dat die wêreld sinvol is en 'n nie-bedreigende spasie waarin
die leser se hoop en vrese gereflekteer word. Miskien is dit omdat Blakemore
se boeke juis aan hierdie behoeftes voldoen waarom hulle konteks en tyd oorspan
en eintlik in Afrikaans klassieke status verwerf het. Dis goed dat Human &
Rousseau die boeke weer aan 'n nuwe geslag Afrikaanse kinders bekend stel. Ander
jeugliterature hou immers hulle gewilde classics so lewendig. Dis een manier om
by kinders 'n historiese bewussyn aan te kweek en hulle deel te maak van die eeue
oue gemeenskap van lesers. Die meisies van Maasdorp; ISBN 0 7981 4391 6
Die jongste meisie in Maasdorpskool; ISBN 0 7981 4392 4 Human & Rousseau Maritha
Snyman |