| Smul
aan hierdie Middernagfees!
Jaco Jacobs dis vir ons 'n middernagfees vol aliens, weerwolwe,
monsters, vampiere en nog wat, op!
Dié nuwe kinderfiksie-bundel laat ons jong lesers van lekkerkry
gril en gretig omblaai vir die volgende bangmaakstorie. Middernagfees
is vir lesers van 9+ jaar en die storie is geskik as 'n voorlees-
of selfleesboek. Op die spyskaart vind ons agt stories en ses gedigte
wat happies insluit soos Die monstertoilet, Kamma-snot, Kom kyk
na die Ongelooflike Paddaman en Flaffie (die zombie-poedel). Ek
sien ook potensiaal vir 'n konsert of kunswedstryd met 'n storie
soos Die Aliens is hier! of 'n gedigge soos Varanus die Monsterlikkewaan.
Jacobs se taalgebruik is na my mening wonderlik gebalanseerd -
hy skryf vir vandag se jong lesers maar die taal bly steeds goed
afgerond. Ek hou veral van sy eie idiome soos "sy't 'n humeur
soos 'n WWE-stoeier" (bl. 23) en verveliger as "'n drie
uur lange weervoorspelling" (bl.58). Jacobs is ook nie 'n nuwe
gedaante op die griltoneel nie. Uit sy pen kom die Grille &
Goeters-reeks waaronder Tande, die Troetelgedrog, Voelers en Nag
van die Monsters, van die bekendstes is. Wees dus gewaarsku - Jaco
ken sy stuff!
Chris Venter werk as vryskut-illustreerder en maak sy debuut in
Middernagfees. Die illustrasies is uniek, vol detail en ondersteun
Jacobs se heerlike humorsin. Elkeen is goed uitgedink en Venter
slaag daarin om dit 'n 'jong' gevoel te gee. Die ek-verteller in
Vampiere en ander ouvroustories som die illustrasiekuns van Chris
Venter vir my op: "Ek hou van die boek se voorblad. Dis lekker
grillerig." (bl. 32).
Koop hierdie boek en geniet dit saam met jou kind - wie weet -
dalk voel jy ook 'n rilling of twee as jy alleen na jou slaapkamer
toe moet loop
MIDDERNAGFEES deur Jaco Jacobs, illustrasies deur Chris Venter,
Lapa, hardeband.
Liesl Booyens
|