J.
Moestafa Tau, die "koelkop-katteheld" van Gaberone, is die hoofkarakter
van hierdie vermaaklike kattestorie.
Die
sterkte van dié kinderverhaal lê nie in 'n asembenewende spanningslyn
nie. Die hele boek wentel om die karakter van J. Moestafa Tau. Reeds is die eerste
paragraaf lees ons: "Besoekers verwonder hulle aan Gaberone. Maar J. Moestafa
Tau is onbeïndruk. Hy woon sy lewe lank in Gaberone...Die stad ken hy soos
die agterkant van sy poot."(p1)
In
Gaberone is J. Moestafa Tau, die huiskat van die Moroka's, 'n gerekende en gerespekteerde
kat. Wanneer die Moroka's na Molepole ,'n klein dorpie in die platteland moet
trek, druip J. Moestafa Tau se ore mismoedig. "'Die hele sosiale toneel sal
tot stilstand kom as ek nie hier is nie,'" dink hy beangs".(p9)
Dis
as gevolg van die trekkery dat J. Moestafa Tau verdwaal en 'n groot avontuur beleef.
Mettertyd word die "vetgevoerde laventelkat" van die stad "'n vreeslose
jagter." Hierdie verandering manifesteer in sy naam. Hy besluit om homself
voortaan slegs "Tau" (twsana vir "leeu") te noem. Daarmee
skaar J. Moestafa Tau hom by die groot gevreesde katte van die veld.
J.
Moestafa Tau is 'n uiters geloofwaardige karakter. Konsekwent beleef die leser
die gebeure deur sy intelligente kat-oë. Van sosiale vlinder in Gaberone
tot verskrikte en soms papnat kat in vreemde gebied loop nie net sy simpatieke
menslikheid nie, maar ook sy manhaftige aanvaarding van sy lot soos 'n goue draad
deur die hele storie. Dié kat bly by jou spin lank nadat jy die boek neergesit
het.
Die res van
die dierekarakters in die boek stry ook om die leser se guns. Met enkele goedgekose
woorde en frases word selfs die minder belangrike karakters fyn geteken. Die breëkoparend
het byvoorbeeldd "'n baie verfynde stem - wat Tau herinner aan dié
van die Britse ambassadeur in Gaborone wat hy eenkeer by 'n skemerpartytjie ontmoet
het."
Ruimteskildering
is prentjiehelder en herskep die landskap van Botswana vir die leser in keurige,
oorspronklike beskrywings: "'n Blink swart teerpad loop soos 'n afgerolde
lint deur die dorp met sanderige paadjies wat na links en regs tussen die netjiese
kampongs deurkronkel".(p.10)
Die
wyse meneer Moroka en sy liefdevolle vrou is saam met hulle twee kinders 'n welkome
toevoeging tot die uitbouing van 'n wyer, veelrassige Afrikaanse jeugliteratuur.
J. Moestafa Tau
is oorspronklik in Engels geskryf. Die Engelse uitgawe is in dieselfde formaat
ook by Tafelberg beskikbaar. Dis in Afrikaans vertaal deur Linda Rode.
Cora
Coetzee (s)kattige katprentjies sal enige katliefhebber se hart laat bokspring.
Keurig
uitgegee, is hierdie boek 'n moet vir katteliefhebbers van alle ouerdomme en kan
dit selfs 'n kattehater of twee se hart versag.