| Lien
Roux-de Jager se reeks wetenskapfiksie verhale is ideaal vir die jonger geslag
wat daarvan droom om die sterre te verken. Die reeks van drie boeke vertel van
die avonture van Len, 'n menslike ruimtevaarder, en 'n groepie Aardlinge in hulle
soeke na nuwe, bewoonbare planeet. In die eerste aflewering, Monsterduiwe,
maak ons kennis met Len en die oorlewendes van 'n wêreldwye ramp. Die oorlewendes
is in drie groepe opgedeel - die eenvoudige grotbewoners, 'n skelm, gemene motorfietsbende
en swerms reuse duiwe. Len bevind homself in die middel van 'n permanente skermutseling
tussen die twee mense-faksies terwyl hy probeer uitpluis wat met die wêreld
gebeur het, maar niemand wil rêrig daaroor praat nie. Intussen val
die vleis-etende duiwe die mense heeltyd aan, en dis duidelik vir almal dat hulle
sal moet wegkom voordat die mensdom heeltemal uitsterf. In Die Doemprofeet
beland Len en sy nuwe Aardsvriende op 'n vreemde, ysige planeet, KL2, nadat hulle
die Aarde noodgedwonge moes verlaat het. Daar moet hulle die elemente van die
natuur en 'n waansinnige diktator trotseer. Hulle ontmoet 'n interessante karakter,
Brork, wat nes 'n reuse verkleurmannetjie sy kleur kan laat verander. Die
laaste boek in die reeks is Woestynvuur, wat op sy eie die lees werd is.
Len en 'n klein groepie vriende verken 'n woestynagtige planeet wat geen tekens
van lewe toon nie, maar daar is wel water en 'n bewoonbare oppervlak
. Het
hulle uiteindelik 'n geskikte planeet gevind? Sal A2 (Aarde 2) hulle nuwe tuiste
wees? Roux-de Jager het die verskillende wêrelde meesterlik uitgebeeld
en met net 'n halwe verbeelding sal jy jou kan inleef in die lewensgevaarlike
situasies waarin Len kort-kort beland. Die verhale bevat die regte hoeveelheid
spanning en angs om jou van begin tot einde te boei en die karakters se kommentaar
is skerp en sorg vir genoeg snaakse oomblikke. Of jy nou glo in ruimtemannetjies
of nie, hierdie reeks is lekker-lees en ontspannend. Moet net nie begin lees voor
jy gaan slaap nie, want jy sal nie kan ophou nie. Maryke
Willemse |