Moord.net
is die eerste titel in die nuwe Thomas@-reeks vir Afrikaanse kinders en die debuutwerk
van 'n jong en byderwetse outeur. Aangesien dit die enigste ware reeks is wat
tans in Afrikaans uitgegee word, word dit met ope arms verwelkom.
Dit is lank reeds bewys dat baie kinders se liefde vir lees by reeksboeke begin.
Dink maar aan die Saartjie- en Maasdorp-boeke van die verlede en die eietydse
Engelse reekse soos Sweet Valley High en die Harry Potter-reeks. Net enkele literêre
snobs glo nog dat reeksboeke sleg vir kinders is. Navorsing oor die afgelope twee
dekades het onteenseglik bewys dat daar goeie redes is waarom kinders graag reeksboeke
lees en behoort te lees. Dus,
welkom aan Thomas, Hannes en Alex - kort vir Alexandra. Ja, in die gees van die
tyd is een van die "driemanskap'' in hierdie reeks 'n meisie. Hulle is egter
nie 'n tradisionele bende nie, maar slegs drie maats wat deur omstandighede saamgegooi
word. Thomas
en sy ouers woon in Kaapstad. Hulle trek in 'n nuwe huis in, en Thomas deps die
solderkamer. Iets is egter nie pluis nie. Ten
opsigte van karakterkeuse is Moord.net stewig in die nuwe Suid-Afrika gevestig.
Alex se ma is 'n professor aan 'n universiteit, Thomas worstel met 'n nuwe ma
wat 'n baba verwag, en Thomas-hulle se bure is swart mense met 'n rekenaar-fundi
vir 'n seun en 'n toordokter vir 'n ouma. Behalwe
die skurk is nie een van die karakters geheel en al eenkantig nie. Die outeur
hou verskillende kante van die karakters aan die leser voor. Veral Thomas groei
deur die insig wat die leser in sy gedagtes het tot 'n oortuigende tienerkarakter:
bang, maar ook dapper; seker van homself, maar ook onseker; onafhanklik van sy
pa, maar ook afhanklik. Die
kommentaar van die meeste kinders wat die boek op my versoek gelees het, was kort
en bondig: ``Cool.'' Die kritiek wat daar was, het oor die karakters gehandel,
naamlik dat 'n mens te min van hulle lees, en dat die storie te gou verbygaan.
Hierdeur word kinders se behoefte aan identifikasie weer bevestig. Dit kry Diedericks-Hugo
reg. Soos die
reekstitel, Thomas@, aandui, speel moderne tegnologie 'n sentrale rol. Die rekenaar
is nie net die plek waar die intrige sy oorsprong het nie, maar is deels 'n instrument
waardeur die verhaal ontknoop en die leser aan die einde steeds met afwagting
laat. Die karakters is egter nie bleeksiele wat hul hele bestaan agter die rekenaar
slyt nie. Hulle is ook helde in die tradisionele sin van die woord as die gebeure
daarom vra. Die verhaal is spannend en word vlot en sonder pretensie vertel in
goeie, eietydse Afrikaans. Sommige
teikenlesers het gedink dat dit nie "scary'' genoeg is nie. By nadere ondersoek
het dit geblyk dié woord verwys na 'n tekort aan onverklaarbare bangmaak-elemente
wat kinders se hare sal laat regop staan. Dit is ook jammer dat 'n groot deel
van die ontknoping "vertel'' en nie "gewys'' word nie. Tog word leesplesier
nie te veel hierdeur ingekort nie. Die
boek is die regte medisyne vir 'n geslag kinders wat al hoe meer ongeletterd raak.
Ek hoop dat Thomas, soos Trompie, 'n vertroude naam sal word. Die boek word aanbeveel
vir kinders (seuns en meisies) van graad 5 tot 9, met inagneming van leeservaring.
Die MOORD.NET,
deur Carina Diedericks-Hugo. Lapa. 2001. ISBN 0 7993 2946 0, R34,95. Maritha
Snyman
|