Die
Sanlamprys vir jeuglektuur, n gesamentlike inisiatief van Tafelberg Uitgewers
en Sanlam, word tweejaarliks toegeken. Dis n kompetisie waarin manuskripte
wat oor n bepaalde voorgeskrewe tema handel, beoordeel word en waarvan die
wenmanuskripte deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer word. Vanjaar was die tema
musiek en het Fanie Viljoen se Breinbliksem en
Francois Bloemhof se nie vir kinders nie, vir die eerste keer
in die geskiedenis van die prys gesamentlik goud ontvang. Aan Engela Van Rooyen
se boek Vuvuzela is silwer toegeken. nie
vir kinders nie Soos Breinbliksem, maar minder eksplisiet, is Bloemhof
se boek ook daarop uit om die establishment uit te daag en om die konvensionele
persepsie van en oor die Afrikaanse tiener (en hulle boeke) opsy te skuif vir
iets meer eksperimenteel en gewaagd. Die flapteks op die agterblad (Hulle
sê oud word is nie vir sissies nie. Ek sê om groot te word, is nie
vir kinders nie) suggereer reeds dat die roman die tradisonele inisiasieverhaal,
waarin die proses van volwassewording gewoonlik beskryf word, anders gaan hanteer. Dit
is, soos Breinbliksem, ook n eerste persoonsvertelling. Tim die hoofkarakter
is die fokaliseerder. Sy pa is n polisieman en beide sy ouers is behoudende,
maar nie bekrompe karakters nie. Ten spyte van sy stabiele huislike omstandigehede
en die feit dat sy ouers hom onvoorwaardelik liefhet, vind hy sy ouers (en hulle
lewenswyse) vervelig en onhanteerbaar gewoon. Ook sy prestasies op
skool is geen teenvoeter vir sy verveling nie. Sy lewe verander egter wanneer
hy sanglesse begin neem by sy beste vriend, Ruan, se ma. Dit berei Tim, sonder
dat dit uitgespel word, voor om deel te word van n reeks gebeure waarin
hy, met Ruan as bemiddelaar, vasgevang word in n lewe van seks en dwelms.
Hy word, voorspelbaar genoeg, vasgedraai in n ontstellende nagmerrie van
prostitusie en dwelmgebruik. Jonger en ouer teikenlesers het die roman
oor die algemeen geniet. Hulle het dit as spannend, real en anders
as gewone tienerboeke ervaar. Dit lyk my dus na nog n boek wat broodnodige
Afrikaanse lesers vir die tienerboek kan terugwen en moet daarom welkom word.
Vir my was daar egter etlike leemtes. Veral aan die begin van die roman
het Tim se besinnnede binnegedagtes vir my onnatuurlik voorgekom - so asof die
outeur bang is die leser verstaan nie na behore wat Tim motiveer nie. Die boek
het nie regtig iets nuuts toegevoeg tot Bloemhof se normdeurbrekende roman Slinger-slinger
en die, vir my uitstekende, Die dae toe ek Elvis was, nie. Die gebeure word hier
net meer skokkend aangebied en die sekuele beskrywings en ervarings tot verdere
uiterstes gevoer. Ook het Tim as karakter my nie oortuig nie. Dit was vir my moeilik
om sy hantering van die uiteindelik ondraaglike omstandighede waarin die opstand
teen die gewoonheid van sy ouers se lewe hom gevoer het asook my persepsies
van hom as onderhoofseun en sy aanvanklike moraliteit te versoen. Dit was vir
onaanvaarbaar dat hy hom willoos onderwerp het aan alles wat van hom verwag, sonder
om in opstand te kom of daaroor na te dink. Een teikenleser het die opmerking
gemaak dat die vertelde tyd van die roman te kort is. Die verhaal sou meer oortuig
het as dit in n jaar of twee voltrek sou word. Dit is moontlik die rede
vir my ongemak met Tim as karakter. Miskien sou Tim my meer oortuig het, as die
verhaal meer kompleks was en oor n langer tydperk afgespeel het sodat die
leser beter met Tim en sy innerlike worsteling kon identifiseer. Ek het egter
die slot van die roman as positief ervaar. Beslis die moeite werd om te
lees vir kritiese en ingeligte lesers. Tafelberg Uitgewers,
ISBN 0 624 04306 1, Prys R59.95 Maritha Snyman |