Carina
Diedericks-Hugo is geliefd om haar opwindende thomas@- reeks. Met Operasie
M.I.A.A.U. gaan haar bewonderaarsklub uitbrei na jonger lesers van 8 - 10. Felix,
is 'n doodgewone elfjarige wat van rugby hou, maar nie van Wiskunde, meisies en
groente nie. En toe eendag verander sy lewe heeltemal. Hy word, teen sy sin, ingetrek
in 'n baie eienaardige, geheime organisasie, MIAAU, wat " bullebakke met
bose magte vastrek" (p6). Die "mense" wat hierdie organisasie bedryf,
is katte - katte wat Felix baie goed ken. Hy vind uit dat katte neersien op mense.
Hulle verwerdig hulle om met hom te praat net omdat hy hulle kan help om 'n bose
plan, wat mensekinders (en katte) se lewens onnoemlik onplesierig sal maak, te
fnuik. Dis 'n prettige en oorspronklike verhaal met 'n lekker sterk spanningslyn.
Soos die karakters in die thomas@- reeks is Felix 'n besonder oortuigende karakter
wat mens op enige laerskool se skoolterrein kan raakloop. Diedericks-Hugo het
inderdaad die vermoë om in haar karakters se koppe in te klim. Die katkarakters
is herkenbare tipes: die streng Meneer Haasbroek, die naïewe Jannie, die
bose Meneer Rippenaar... Humor is 'n besonder belangrike bestanddeel Operasie
M.I.A.A.U.. Die intrige is 'n spottende variasie van die klassieke spioenasieverhaal
en Felix die ietwat onwillige spesiale agent. Daar word gespot met mense wat in
die boek katte is én mense wat in die boek mense bly, maar wat ons almal
uit feit en fiksie leer ken het. Dit sluit aan by die tong-in-die-kies spioenasiestrokiesverhaal,
Agent Snoet, van Francois Bloemhof. Diedericks-Hugo se taalgebruik en beeldspraak
is sprankelend vars en snaaks. Vergelyk: "hy dink hy nies goud", "monsternollies
en "sy kruip soos 'n stofsuier" (voor haar pa-hulle!). Die boek
is in volkleur met komplementerende sketse van Séan Verster. Veral seuns
(maar ook dogters) en alle katliefhebbers sal Operasie M.I.A.A.U. terdeë
geniet. Operasie M.I.A.A.U. Carina Diederiks-Hugo. Human
& Rousseau. R 69.95 ISBN 0798144904 Maritha Snyman
|