Ouens
is nie pizzas nie is die tweede boek uit die pen van die gewilde Tania Brink.
Met Liefde laat jou rice krispies anders proe het sy haarself bewys as
funky nuwe skryfster, iemand wat die harte van meisies (en ouens) verstaan. Ouens
is nie pizzas nie is vars uit die oond en sal geniet word deur enige iemand
wat hou van rissies (of rissiepitte!), genoeg aksie en intrige en natuurlik vuurwarm
romanse. Anja en Zanelle werk vir die Desembervakansie in Dolfynbaai se
enigste pizzarestaurant. Soos altyd, is Zanelle vol slim idees oor ouens. Sy kry
meeste van dié idees uit tydskrifartikels, soos die een wat meen ouens
is soos pizzas. Anja dink dis sommer strooi - tot hulle die twee aantreklike broers
Markus en Abrie ontmoet. Die een is 'n blonde branderplankryer en die ander 'n
donkerkop-diepseun - en Zanelle se tergery dat altwee op Anja verlief is, staan
haar glad nie aan nie. Net toe sy tog begin dink die twee broers is dalk nie te
onaardig nie, gebeur daar iets wat die twee ouens diep in die deeg laat vassit.
Anja en Zanelle is op die oorlogspad en dit lyk of die twee ouens met meer as
net brandbekke vir hulle skuld gaan moet betaal. Ouens is nie pizzas
nie is 'n storie wat jou dalk gaan laat lus word vir Hawaiian, Margarita,
of Meksikaanse pizza met ekstra chilli-sous! Dis 'n boek geskryf in alledaagse
jongmenstaal oor dinge waarmee elke meisie en ou kan identifiseer - soos pizza
en romanse. Lapa Uitgewers, Sagteband, 0-7993-3632-7 Anneretha
Combrink |