Die
verhale van Pippie Langkous is nie onbekend in Afrikaans nie. Nerina Ferreira
se vertaling van die drie Pippie Langkous-boeke het in 1974-1975 vir die eerste
keer verskyn. Die heruitgawe van die boeke is egter goeie nuus. Lindgren
het byna onmiddellik in Swede sukses behaal met die eerste Pippie Langkous-boek
in 1945. Vandag is Pippie steeds een van die gewildste kinderkarakters in jeugfiksie
reg oor die wêreld. Pippie,
die dogtertjie met die rooi boksterte en die snaakse klere deurbreek alle norme
en het daarom dikwels oor die jare haar grootmense se misnoeë op die hals
gehaal. Maar Pippie het haar nooit daaraan gesteur nie en verower vandag nog kinders
se harte. Pippie
is onafhanklik en onkonvensioneel. Haar troeteldiere is 'n perd en 'n kat. Haar
ma is dood toe sy 'n baba was en haar pa is 'n "mensvreterkoning" wat
op die see vaar. Daarom woon sy alleen in haar huis, Winderuis. Sy is ryk (sy
het 'n groot tas vol goue munte), slordig en hoef na geen grootmens te luister
nie. En sy is sterk: na liggaam en gees. As haar perd in haar pad is, tel sy hom
sommer op en sit hom eenkant neer. Sy laat haar deur niks onderkry en ontbloot
die skynheiligheid van sommige grootmense (al is hulle belangrike gesagsfigure)
sonder skroom. Lindgren het met die Pippie-stories doelbewus 'n bres
geslaan vir die kind wat volgens haar dikwels in 'n ondemokratiese en onmenslike
situasie verkeer. "I write to amuse the child in within me, and can only
hope that other children may have some fun that way too," sê sy in
'n onderhoud. Dit kry sy steeds reg. My sestienjarige dogter het die drie Pippie-boeke
verslind omdat Pippie "oorspronklik is, altyd nuwe idees het en pret is". Geen
kind, oud of jonk, mag die voorreg ontsê word om Pippie Langkous te leer
ken nie. Astrid
Lindgren (vertaal deur Nerina Ferreira); Pippie Langkous (ISBN 0 7981 4292 8),
Pippie Langkous in die Suidsee (ISBN 0 7981 4294 4) en Pippie Langkous gaan aan
boord (ISBN 0 7981 4293 6); Human & Rousseau.
Maritha
Snyman |