Dis
die skrywer se tweede boekie oor Poppie-Dot en dié een is nog warmhartiger
as die vorige. Die
bruin meisietjie word oortuigend geteken as lewendig en nuuskierig, en dis duidelik
dat sy baie lief is vir oupa Jorsie, by wie sy bly omdat haar ouers oorlede is.
Sonder enige sentiment of afskrywery word handelend vertel watter werkies Poppie-Dot
gereeld doen - en veral hoe sy haar koei. Sêramei, versorg en self melk. Dis
Poppie-Dot wat planne maak wanneer haar oupa Walvisbaai toe wil gaan om snoek
te vang; sy dink 'n wa uit wat vir Sêramei gemaak moet word, sodat sy die
meisietjie kan begelei as sy by familie gaan kuier. Die
reis van Bok-eiland word noukeurig en met stemming beskryf. Later is daar 'n tweede
reis as haar oom Sefie haar en sy eie kind Grieta saamvat om goed in die Kalahari
te gaan aflaai. Jong lesers sal 'n sterk indruk kry van die harde, warm wêreld
waar Poppie-Dot terugverlang na die koeler Bamboesbaai. Tog is sy ontvanklik vir
kosbare ervarings saam met Grieta en die ouerpaar, oom Sefie en tannie Miena,
en ook laasgenoemde se broer oompie Joos wat vroeër die pont oor die Grootrivier
geneem het en lekker kan vertel. Vertellinge
is belangrik in die opset: van oompie Joo en ook in fantasieverband van 'n akkedis
en die waterslang wat Poppie-Dot se vrees vir hom besweer en haar verseker dat
hy mense juis van verdrinking red. Daarom dra hy 'n ster op sy voorkop: dit "gee
vir my swemkrag om vinnig by kinders te kan uitkom as hulle in die rivier val"
(p. 56). Die fantasieë word goed voorberei deurdat Poppie-Dot aan die slaap
raak of bewusteloos word as sy haar in die rivier beseer. Ook
die Boesman Langasem speel 'n positiewe rol en leer Poppie-Dot dans met die dansbandjies
wat hy vir haar present gee. Al die ontmoetings met vreemde karakters versterk
die gevoel van geborgenheid wat in die sestal verhaaltjies beklemtoon word. Die
mooiste verhouding, wat deurgaans 'n rol speel, is met die koei. Nooit word sy
vermenslik nie: sy het tipiese koei-kwinte, soos om te weier om weer in haar wa
te klim, nadat oupa Jorsie haar moes aflaai om eers 'n pap band reg te maak, en
om met die groot reën op Bok-eiland weg te loop en só spanning in
die teks bring. Poppie-Dot
gesels met haar as 'n vertoueling, word soms kwaad en raas met haar, maar dan
word sy weer sorgsaam. Die muggies wat Sêramei saam met die hitte teister,
laat haar troos: "Jy moenie bang wees nie. Ek sal hulle weghou van jou af"
(p. 43). Sonder die koei sou dié storie nie so goed geslaag het nie. Die
teks met sy duidelike druk, wat lesertjies van sewe, agt sal aantrek is geïlustreer
deur Nikkie Jones. Kinders sal by die lees heirvan kennis bekom van die lewenswyse
van 'n bruin meisie en van 'n besondere omgewing. Resensent
Elsabe Steenberg
|