Die
baie belowende jong skrywer, Jaco Jacobs, se nuwe boek Pretpark is die
derde boek in Human en Rousseau se avontuurreeks en is, soos ons al van Jacobs
gewoond is, 'n baie oorspronkilike verhaal. Johan en sy beste vriend Anton
bly in die dorpie Rustenvrede. Die klem val op rus en vrede. Daar heers groot
opgewondenheid onder die inwoners van die dorpie toe 'n rondreisende pretpark
daar aankom. Alhoewel Johan en Anton aanvanklik skepties is oor die hele gedoente,
neem hulle later vrywillig deel aan 'n toertjie by die skool om die pretpark te
adverteer. Eienaardige goed gebeur daarna met Johan en Anton wat moontlik nie
aan blote toeval toegeskryf kan word nie. Die karaktertekening is, soos in Jacobs
se vorige boeke, oortuigend. Veral manlike lesers van graad vyf tot sewe sal lekker
met die twee karakters kan identifiseer. Jacobs sorg vir 'n vinnige leestempo
in Pretpark. Niks is uitgerek of langdradig nie. Die die leser word half
onwillekerig saamgesleep na 'n fantasiewêreld van waarsegters, olifantritte
en die ongelooflike ril-en-gil-koets. Die onskuldige aanvang van die verhaal
versterk die oplopende spanning wat veroorsaak dat mens nie die boek kan neersit
voordat jy uitgevind het wat regtig aan die gang is nie. Hoewel die raaisel
eers aan die heel einde ontknoop mag die skerpsinnige leser dalk in die middel
van die boek die ontknoping begin vermoed. Dit sal niemand egter verhinder om
die boek enduit deur te lees nie. 'n Lekker boek vir die kerskous as dit
dalk reën by die see. |