Die
kinderboekskrywer Janie Oosthuysen is pas met die C.P. Hoogenhout-prys vir kinderliteratuur
bekroon. In
sy commendatio het Thomas van der Walt, een van die beoordelaars, gesê ondanks
die versugting dat die Afrikaanse kinderboek mank gaan aan goeie humorisitiese
en fantasieverhale, het Oosthuysen op haar eentjie 'n verandering aan die situasie
gebring. Van
haar bekendste werke is Ouma Hester en die Dreadnought Merk 111 en Juffrou
Luisenbosch en die breinwassers. Oosthuysen
is ook die vertaler van die Harry Potter-boeke wat eersdaags in Afrikaans by Human
& Rousseau verskyn. Van
der Walt het voorts gesê Oosthuysen word soms as effens subversief gesien omdat
sy in haar boeke altyd die kant van die kind teen onregverdige grootmense kies.
"Hiermee
verkeer sy in goeie geselskap. Roald Dahl en Paul Jennings moes dieselfde kritiek
verduur, maar met die heerlike wete dat hulle kinders aan die lees het,'' het
Van der Walt gesê. Die
C.P. Hoogenhout-prys word al sedert 1960 oorhandig en is een van die oudste kinderboekpryse
in Suid-Afrika. Dit word toegeken deur Unisa se Eenheid vir Kinderliteratuur (ENIK)
in samewerking met die Stigting vir Afrikaans. Omdat
die prys sedert 1995 nie toegeken is nie, is besluit om dit terugwerkend te doen.
Die prys wat Oosthuysen nou ontvang het, is vir alle kinderboeke in Afrikaans
wat in 1996 en 1997 gepubliseer is. Veranderings
is ook aan die beoordelaarstruktuur gedoen. Terwyl die beoordelaars in die verlede
slegs uit skool- en kinderbibliotekarisse bestaan het, is ander mense, wat ouers
en kinderlesers insluit, ook vanjaar betrek. Die doel met die prys is egter steeds
om gehalte te beoordeel en nie gewildheid nie. Vanjaar
se beoordelaars was Van der Walt (ENIK), prof. Maritha Snyman (Stigting vir Afrikaans),
Lona Gericke (openbare biblioteek, Bellville), Magdel Vorster (ouer), Miemie du
Plessis (Gauteng-biblioteekdiens) en die twee nasionale wenners van Afrikaans
Ekspo 1999 se junior prosa-afdeling, Michael Neser van die Afrikaanse Hoër Seunskool
in Pretoria en Willem Strauss van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein.
Berig
Beeld, Vrydag 24 Maart 2000 |