Simone
de Beauvior het gesê: "The word 'love' has by no means the same sense
for both sexes, and this is one of the serious misunderstandings that divide them."
Dit is seker om hierdie rede wat de Beauvior uitlig, dat ons altyd nuwe liefdesverhale
sal kry, want misverstande, veral dié wat rondom die liefde draai, skep
'n mynveld van potensiële temas vir skrywers. Dit gesê, bly dit steeds
skaars om 'n liefdesverhaal raak te lees wat nie 'n uiteensetting gee van geykte
karakters, deurtrapte liggings of holruggeryde tema's nie. En as 'n mens aan tieners
en die liefde dink, spook soetsappige boeke soos die Sweet Valley High-reeks,
Soekie word Sestien en Somernagdroom by my.
Maar dan is daar Liefde laat jou Rice Krispies anders proe.
"Shakespeare was miskien hierdie hengse romantiese skrywer, maar hy was 'n
seksis, nes die meeste mans. Hy't seker heeldag op sy agterent gesit en skryf
terwyl 'n vrou vir hom kos maak, sy klere was en sy vuil sokkies agter hom opgetel
het." Liefde
laat jou Rice Krispies anders proe deur die jong Bloemfonteinse skrywer, Tania
Brink, is 'n tipiese, skoolliefdesverhaal
met 'n verskil. Marzanne Odendal
is 'n uitgesproke tiener: sy dink Shakespeare is pateties, die skoolheld, Armand
is verwaand, om verlief te raak is malligheid en tydmors en die enigste werk waaroor
'n mens kan opgewonde raak is die joernalistiek. Haar vriendin, Nadia, glo presies
die teenoorgestelde en wag in spanning dat die spreekwoordelike ridder haar na
die Mei-dans sal vra. Die dans-atmosfeer is een van uiterste frustrasie vir Marzanne,
veral toe anonieme liefdesgedigte per e-pos vir haar gestuur word. Sy vermoed
natuurlik dadelik die stillerige Wikus, maar dan blyk dit 'n geweldige misverstand
te wees. Hierdie
is 'n boek wat jou reeds van die pragtige omslag en verbeeldingryke titel (grammatikale
fout, ten spyt) af boei. Dit is 'n alternatiewe tienerliefdesverhaal, in dieselfde
tradisie as Human & Rousseau se Eerste Liefde-reeks. Liefde laat jou Rice
Krispies anders proe is intelligent geskryf, die karakters blyk met die eerste
oogopslag stereotipies te wees, maar hou aan om die leser te verras met diepte,
humor en die natuurlike tiener-wroegings. Dit is 'n lekkerleesboek, toeganklik
vir meisies én seuns, en perfek vir die lang somerdae wat wag.
Liefde laat jou Rice Krispies
anders proe. Tania Brink LAPA Uitgewers Carina
Diedericks-Hugo
|