Lank
nadat ek hierdie jeugboek van Marita van Aswegen neergesit het, het dit steeds
in my gedagtes bly spook. Die oorheersende tema van dié kraakvars jeugverhaal,
is die vermoë van die mens om moeilikhede te oorkom. Die boek laat die seker
wete by die leser dat al is die lewe nie sonder probleme nie, is humor, die vreugde
wat in kreatiwiteit lê en die liefde van medemense veel groter. Teikenlesers
se gevoel oor dié boek het in alle opsigte met my gevoel ooreengekom. Dis
cute, het een gesê. "Mens voel lekker as jy dit klaar gelees het"
het 'n ander byvoorbeeld gesê. Roer
jou riete pampas is die verhaal van 'n Pampas, 'n Sothoseun wat saam met sy ma
en oupa en natuurlik Sekgo sy troetelspinnekop op die platteland bly. Sy pa, Solomon
werk by die myn en hy kom net elke drie maande huis toe. Ander karakters in die
verhaal wat 'n invloed op Pampas se lewe het, is sy neef Dintwe en Pule, die mooi
dogter van die bure wat by haar tannie in Gauteng bly en soms kom kuier. In
kort handel die verhaal oor hoe Pampas, te midde van allerlei persoonlike krisisse,
sy droom verwesenlik om 'n mukimbe ('n soort musiekinstrument) te besit. Dis 'n
verhaal van konflik, humor, teerheid, liefde en entrepeneurskap. Die
leser bly voortdurend oortuig van die omgewing waarbinne Pampas lewe. Die effektiewe
- en korrekte - gebruik van Sothowoorde vir sleutelelemente, raak beskrywings
van die omgewing en Pampas se huis en kamer dra by tot 'n lewensgetroue weergawe
van swart kinders se lewe op die platteland. Dit val egter nie in by die stereotipiese
uitbeelding waaraan ons gewoond is nie, maar beeld in alle opsigte die hedendaagse
opser daar uit. Hulle rap, koop t-hemde en ry minibusse. In die opsig kan die
boek Afrikaanse stedelike lesers 'n waardevolle kykie in die lewe gee van kinders
in 'n ander kulturele milieu. Laat ek egter dadelik sê dat dit bloot 'n
bykomende voordeel is en dat die verhaal en karakters so boeiend is dat hierdie
insigte eers later, tydens nadenke oor die boek en by 'n tweede lees van die boek,
na vore kom. Die
taalgebruik getuig van 'n fyn waarnemingsvermoë. Dit is eenvoudig en vars
en sluit aan by die Sotho-idioom en milieu. Kom ek gee 'n paar voorbeelde: "Die
stilte val soos 'n dik kombers oor hulle" (p 5); "Oupa skrop soos 'n
hoender tot hy sy regte sit op die bankie kry" (p 11); "
vir so
'n meisie kan 'n mens maar jou geld uithaal." (p 44). Spesiale
vermelding moet gemaak word van die kunstenaar, Gert le Grange. Die bandontwerp,
veral, is myns insiens uitstekend en vat die hele gegewe en atmosfeer van die
boek treffend saam. Die wit agtergrond en dinamiese illustrasies het almal wat
die boek gesien het se aandag getrek. Die boek is keurig uitgegee - van die titelblad
tot die insiggewende woordelys agter in. Roer
jou riete pampas is uiters geskik vir kinders van ongeveer agt tot twaalf jaar
oud en is 'n moet vir elke mediasentrum - veral dié by skole. J.L.
van Schaik-uitgewers. ISBN 0 627 02336 3 Maritha
Snyman |