Die
Saartjie wat ons ken het 'n splinternuwe baadjie aan, reg om 'n nuwe generasie
met haar kattekwaad en streke te vermaak! Die sypaadjie voor die Baumanns
se groot dubbelverdiepinghuis is met betonblokke geplavei. Wanneer Saartjie daar
kom, spring sy van die een blok na die ander. Dit is by haar 'n saak van eer om
nie op die gleuwe te trap nie. Sy spring nou vinnig van die een blok na
die ander. Wanneer sy amper by die hekkie is, vries sy in haar spore. Met 'n teleurgestelde
uitdrukking op haar gesig kyk sy na haar een voet. Die skoen se punt raak aan
een van die groewe tussen die twee blokke... In die eerste boek, Saartjie,
het die Drie Muskiete, Saartjie Baumann en haar twee vriendinne, Anna en Lina,
eindelose pret saam met die kinders van Lynnekom. Saartjie reël 'n konsert
ten bate van minderbevoorregte kinders en al haar vriende is verplig om deel te
neem. Met Saartjie is daar altyd iets aan die gebeur en die boek sorg vir hope
pret en lag, met 'n bietjie spanning ook! Dan kom die tweede boek in die
reeks, Saartjie se vakansie. Dit is 'n heerlike lang vakansie, maar dit
reën. Omdat daar niks anders is om te doen nie hou die kinders 'n moddergeveg,
seuns teen meisies... selfs die dominee het sy beurt gekry! 'n Reeks gebeure lei
tot die perfekte geleentheid om vir Muggie, Anna se klein sussie, in 'n nar te
omskep met helder verf. Saartjie sien al hoe hulle geld maak as hulle haar toertjies
leer, maar Muggie se ma dink nie so nie... Alles in die vakansie is egter nie
lag en pret nie, 'n orkaan tref 'n arm woonbuurt en Saartjie eindig met 'n tweeling
wat die ramp oorleef het. Sy versteek hulle in haar ou speelkamer terwyl die hele
land na die vermiste tweeling en hul ontvoerder opsoek is! Die reeks bestaan
uit 24 boeke, alles dieselfde as die vorige Saartjie-reeks, en tog splinternuut.
Die verhale verloop dieselfde, met enkele woord en frase veranderings sodat die
nuwe generasie Saartjie-lesers met Saartjie en haar maats kan assosieer. Die buiteblad
is ook verrassend nuut en vars, dit maak mens sommer lus om weer kind te word
en Saartjie opnuut te ontdek en geniet. Saartjie het dus nog lank nie die laaste
weerbarstige krul van haar voorkop af weggevee nie... Die Saartjie...Ai, dié
Saartjie! Elize Potgieter |