Ten spyte van
bevoorregte omstandighede en ondersteunende strukture het Willem op die rand van
die lewe bly huiwer. Hy kon die sprong nie maak nie ... Hy het hom al
daarmee vereenselwig dat hy altyd geteister sou word deur die herinnering aan
die dag toe hy in die kring van sub-A'tjies die meisietjie langs hom se hand gehoorsaam
gevat het die die GIL die eerste keer weerklink het. Homself as volledige mens
aanvaar, dit kon hy nie; daarom het hy ook geglo dat sy ma se trane dié
van bittere teleurstelling was omdat sy wat die perfekte nastreef, 'n seun met
'n gebrek het. Maar toe kom die angsdag op die rotslys in die berg, met
Nelie se liggaam wat afstort tot kortby die branders se breek, en Willem besef:
hier is sy groot sprong, teen hierdie kranse moet hy af, teen angs en onsekerheid
in. Daardie dag en die nag met die fluistering van die dood om hom, het hy die
eerste deurbraak gemaak. Daarna sou hy leer om die lewensgereedskap waaroor hy
wel beskik, te gebruik. Hy kan dans - hy tango 'n prys los. Hy reik uit na die
aanvallige Chris - en kan skielik met humor na sy gebrek verwys. Hy weet ineens
watter beroep hy wil volg. Hy het die spong gemaak... Rena Schüler
kry dit reg om in hierdie jeugverhaal 'n introverte seun sy eie spesiale inset
oortuigend te laat lewer, en om hom te laat groei tot 'n gewone tiener wat saam
met die meisie van sy hart 'n popkonsert bywoon en dan wéét dat
hy nooit weer die gil van die sub-A-meisietjie sal hoor nie. Jeugverhale
van die onlangse jare is dikwels oorlaai met ellendes en probleme. Hoewel 'n probleem
ook hier die kern is, word die balans tussen die probleem en die dartele, uitnodigende
lewe fyn bewaar. 'n Sensitiewe aanslag in die skryfwerk word afgewissel met lewenskragtige,
soms dramatiese tonele. Die einde is verhelderend en helend, 'n skoon deurtog,
watn dis 'n rigtingduidende teks. Vir hieride helderheid en insig in 'n literêre
bedryf wat die jong leser soms meer verstrik in probleme laat as vóór
die lees, is mens Rena Schüler dankbaar. Die somervakansie wat
te lank was is 'n waardige wenner van die Sanlam-silwermedalje. |