|
In Speurder Annika maak 'n plan lei Elmarie Botes die leser
op 'n soektog Dit is 'n boek uit 'n reeks kinderboeke vir liefhebbers
van speurverhale en raaisels. Tamarin Skead gee die verhaal verder
lewe met haar illustrasies.
Hierdie verhaal gaan oor Aninika, 'n meisie in graad vyf wat mal
is oor speurverhale en raaisels. Annika kom te staan voor twee probleme.
Een van haar klasmaats, Nicolene, het nie 'n oupa of ouma wat na
die Oupa-en-Ouma-dag toe kan kom nie. Annika en haar maats los egter
hierdie probleem gou op deur voor te stel dat die kinders wat meer
as een oupa en ouma het, van hulle oupas en oumas uitleen vir die
dag vir die wat nie oupas en oumas het nie. Die groot raaisel wat
Annika egter moet oplos is die van die koerant wat elke oggend geheimsinnig
verdwyn...
Annika volg die leidrade tot sy moedeloos is, maar is niks nader
daaraan om die dief vas te trap nie. Op Oupa-en-Ouma-dag ontmoet
Annika vir Antonie se blinde oupa en sy gidshond wat allerhande
goed vir sy baas gaan haal. Die verhaal eindig waar Annika die ongewone
dief met die swaaistert betrap.
Die kern tema in die verhaal is die oplos van probleme. Annika
twee probleme met behulp van haar speurvernuf en maats opgelos.
Die verhaal maak dit duidelik dat mens met samewerking, harde werk
en vasberadenheid, enige iets kan doen. Die leser loop saam met
Annika die pad, soek saam met haar vir nog raaisels en deel in haar
frustrasie wanneer leidrade doodloop. Die leser deel egter ook in
die geluk wanneer die dief gevang word. Die taalgebruik en styl
is maklik verstaanbaar en boei die leser van die begin van die verhaal
af tot die einde.
Dit is 'n verhaal van raaisels, frustrasies, opwinding en sukses.
Elmarie Botes kry dit goed reg om die leser saam met die hoofkarakter,
Annika, op 'n speurtog te neem.
Titel: Speurder Annika Maak ? Plan
Skrywer: Elmarie Botes
Illustreerder: Tamarin Skead
Uitgewer: LAPA Uitgewers Bpk.
Bladsye: 64
|