|
Stel jouself voor, 'n stil vertrek in 'n ou museum, net jy en 'n
klomp opgestopte voëls, 'n persblou veer op die vloer, 'n verlore
Kwahu-knauh en 'n geheimsinnige vertrek...
Dit is die verhaal van Speurder Annika waarin Elmarie Botes die
leser op 'n wilde soektog deur 'n ou museum lei. Speurder Annika
los 'n raaisel op is'n kinderboek gemik op kinders wat van speurverhale
en raaisels hou. Dit is deel van 'n reeks speurboekies deur Elmarie
Botes. Ekstra lewe word aan die verhaal gegee deur Tamarin Skead
se illustrasies.
Speurder Annika los 'n raaisel op gaan oor 'n graad vyf
meisie wat mal is oor speurverhale en raaisels. Gedurende 'n besoek
aan die Natuurhistoriese Museum in die stad, kom Annika op 'n geheimsinnige
persblou veer af. Oomblikke later vertel Meneer Meiring vir Annika
en haar klasmaats van die Kwahu-knauh, 'n skaars voël uit Midde-Afrika.
Die voël is aan die museum geskenk, maar kon nooit uitgestal
word nie aangesien dit spoorloos verdwyn het. 'n Geheimsinnige persblou
veer op die vloer in die vertrek waar al die opgestopte voëls
uitgestal word, 'n persblou Kwahu-knauh wat spoorloos verdwyn...
Annika volg die raaisel van die geheimsinnige veer en kom af op
'n weggesteekte deur wat lei tot 'n geheimsinnige vertrek waar sy
en haar klasmaat, Sheldon, vasgevang word. Die verhaal eindig waar
Annika haar beste speurwenke gebruik om die verlore Kwahu-knauh
op te spoor, en haar en Sheldon uit die donker vertrek te kry.
Die hooftema in die verhaal is natuurlik die speurtog, die soeke
na dit wat eens verlore was. Verder kom die tema van samewerking
ook sterk deur in die verhaal. Annika en Sheldon volg saam die raaisel
van die veer en met samewerking alleen, kom hulle albei ongeskend
uit die geheimsinnige vertrek uit. Annika se karakter leer in die
verhaal om in 'n moeilike situasie kalm te bly en logies te dink.
Die leser word spannend deur die verhaal gelei tot by die laaste
klimaks en dan gelukkig gelaat met 'n bevredigende einde. Elmarie
Botes se taalgebruik en styl is maklik verstaanbaar en vloei gemaklik
van handeling tot handeling. Dit boei die leser van die eerste bladsy
tot die laaste bladsy.
Die leser word op 'n soektog van raaisel na raaisel geneem en
kan deel in Annika se sukses aan die einde van die verhaal. Hierdie
verhaal bewerkstellig elke kind se droom van 'n opwindende speurverhaal
waarin die speurder altyd slaag.
Titel: Speurder Annika los 'n raaisel op
Skrywer: Elmarie Botes
Illustreerder: Tamarin Skead
Uitgewer: LAPA Uitgewers Bpk.
Bladsye: 64
|