Die
spree met foete, nog 'n spanpoging van die bekroonde rympiesmaker, Philip de Vos
en die uitsonderlik talentvolle illustreerder, Piet Grobler, kan natuurlik nie
anders as om Afrikaanse boekeliefhebbers na hulle beursies te laat gryp nie. En
die boek stel ook nie teleur nie. Die illustrasies konkretiseer die woordteks
voortreflik - die illustrasie van "Marietjie die stinkblaarboom" is
my persoonlike gunsteling - en vorm letterlik deel van die woordteks. Die rympies
is vermaaklik en demonstreer weer eens De Vos se vermoë om Afrikaans kreatief
te gebruik. Die
spree met foete is 'n versameling Afrikaanse verse uit die Nederlandse skrywer,
Annie MG Schmidt se bundel Ziezo. In die lig daarvan dat Annie Schmidt, volgens
die uitgewer, die inspirasie agter Philip de Vos se rympieskrywery was, is hierdie
boek op persoonlike vlak 'n waardige huldeblyk aan Annie Schmidt, een van Nederlandse
se bekendste en geliefdste outeurs. Maar
ook op literêre gebied is die vertaling van haar verse in Afrikaans 'n belangrike
mylpaal - veral in 'n tyd waarin daar min prominente Europese kinderboekouteurs
Afrikaans praat. En 'n prominent outeur is sy beslis. As gevolg die langdurige
verspreiding, herdrukke, vertalings en bewerkings van haar werk en haar gewildheid
onder die breë Nederlandse leserspubliek is Schmidt deur die Nederlandse
pers as "Die Ware koningin van Nederland" gedoop. Van haar heel bekendste
boeke vir kinders, die reeks oor Jip en Janneke is tot op hede meer as 3 miljoen
in Nederland alleen verkoop. Ten
spyte van haar gewildheid by kinder-en volwassene lesers wat haar leer ken het
deur haar populêre mediaprogramme, kabarette, stories, komedies en volwassene
en kinderverse, verwerf sy byna geen literêre status in Nederland in die
jare vyftig en sestig nie. Eers toe opvattings oor literatuur in die jare sewentig
verander en onder die vaandel van emansipasie en demokratisering ook leesbaarheid
en toeganklikheid as kriteria erken, word sy in die literêre hoofstroom
opgeneem. Veral die status van kinderliteratuur in Nederland het gebaat by hierdie
veranderde literêr- teoretiese opvattings. In 1988 ontvang sy boonop die
hoogaangeskrewe Hans Andersen-medalje van Astrid Lindgren. Volgens
Nederlandse kommentators wil haar versies lesers vermaak en ook 'n bietjie laat
dink. Haar werk word bestempel as die portret van 'n samelewing - ook omdat sy
mimeties werk en haar werk oor soveel jare heen strek. Haar gewildheid onder kinderlesers
word toegeskryf aan haar solidariteit met kinders en haar vermoë om die swakhede
van sommige volwassenes uit te buit en te satiriseer. Of
hierdie vertaling aan Afrikaanse kinders dieselfde leesplesier sal verskaf om
dieselfde redes as hierbo genoem, kan bevraagteken word. Enkele getuienis van
kinders se reaksie op die boek spreek van nee. Die onbekende Europese konteks
en kennis van verwysingstekste wat nie noodwendig deel van die Afrikaanse kind
se verwysingsraamwerk uitmaak nie is, myns insiens, twee hindernisse. Daarom sal
veel van die satire en sosiale kommentaar die Afrikaanse kind verbygaan - tensy
dit natuurlik geduldig deur 'n volwassene leser aan die kind uitgewys en verduidelik
word. Verder hinder die deugaanse weglating van die dubbele ontkenning in De Vos
se verse my - soos ook in sy ander publikasies - steeds. Veral hier klink dit
"Nederlands" en skep dit verwydering met gesproke Afrikaans wat afstand
tussen die kind en die teks kan teweegbring. Die
publikasie is nietemin pragtig en as volwassene het ek veel plesier daaraan gehad.
Koop dit as 'n geskenk om iemand op te kikker of as 'n koffietafelboek en verskaf
aan gaste wat dalk vir jou moet wag, groot plesier.
Die spree met foete. Afrikaanse verwerkings van Annie M.G.
Schmidt-verse. Philip de Vos en Piet Grobler. Human & Rousseau. ISBN: 0-7981-4234-0.
Maritha
Snyman
|