Stalmaats
deur Lize Roux is 'n uitstekende nuwe reeks in Afrikaans oor perde en perdeliefhebbers.
Die eerste twee boeke in die reeks is: Totsiens, Sugerplum en Perdedrome.
Die reeks handel oor 'n meisie in Graad 6, Anri, wat sopas na 'n nuwe
dorp verhuis het en by 'n nuwe ryskool, Dagbreek, aangesluit het. Alles is vir
haar vreemd en sy mis haar ou ryskool, perd en maats. Gelukkig ontmoet sy gou
twee nuwe maats wat saam met haar by die Dagbreek-ryskool is en ook in dieselfde
graad in haar nuwe skool. Kort voor lank is dié drie onafskeidbaar en geniet
hulle lang sorgelose dae as deel van die spesiale groep by die ryskool wat Stalmaats
genoem word. Sy ontwikkel ook 'n spesiale band met Sugerplum, 'n jong palamino
merrie. Sy vind ook 'n goeie vriend en vertroueling in Jacques, die eienaars van
die ryskool se seun. Wat hierdie reeks lekker maak om te lees is die feit dat
dit maklik identifiseerbaar is met die moderne tyd. Dit is geskryf in 'n dialek
wat 'n kind in vandag se lewe presies kan verstaan en realistiese situasies word
geskep. Anri bly byvoorbeeld. in 'n doodgewone huis, het doodgewone ouers en twee
broers met wie sy vassit (soos doodgewone kinders soms maak). Elkeen van
die reeds twee beskikbare boeke is volgens my die moeite werd om te lees, alhoewel
ek graag sou wou hê dat die stories 'n bietjie langer moes wees en dat elke
karakter in die storie werklik 'n absolute eie persoonlikheid moet aanneem. Lize
Roux slaag daarin om die konsep van 'n reeks soos deur Stella Blakemore of Theunis
Krogh in moderne dialek verder te voer, wat - glo ek - 'n nuwe en opwindende era
in Afrikaanse jeugliteratuur inlei. Carla-Mari
van den Heever |