Verlede
jaar het die polities inkorrekte 350 jarige viering van Jan van Riebeeck se landing
aan die Kaap feitlik ongesiens verbygegaan. Danksy Dan Sleigh se allemintige Eilande
en ook Marianna Brandt se Die Stoutsterte van Texel tot Tafelbaai is daar
immers op die literêre front lewe geblaas in die geskiedenis van die VOC
aan die Kaap.
Die Stoutsterte van Texel tot Tafelbaai vertel die verhaal van vier muise:
Pieta en Leentjie van Sterten en Koot Kaas met sy verwagtende Ellie, wat op die
vooraand van Van Riebeeck se vertrek na die Kaap besluit om saam te gaan na die
"nuwe land".
Die skip is 'n uiters muis-onvriendelike omgewing met hongerige skeepskatte, 'n
venynige papegaai, wrede matrose en vreesaanjaende seerowerrotte. Bowendien word
die familie Kaas se sesling gebore wat kort voor lank 'n besonderse aanleg vir
moeilikheid toon. En dan is daar nog die lywige Pieta wat amper daagliks net-net
aan Gemmerkat se kake en die bakker se skoen ontsnap.
Dit is 'n verhaal wat die geskiedkunige gegewens rondom Van Riebeeck en die verversingspos
uitstekend en innoverend uitbeeld. Vanuit die perspektiewe van die muise word
die detail op die skip, asook die besonderhede rondom die missie, fyn waargeneem.
Dit is veral Tanja Joubert se verbeeldingryke illustrasies wat die teks verryk
en die historiese gegewens lewe gee.
Alhoewel die muise allerhande gevare in die gesig staar en avonture beleef, bestaan
die paradoksale probleem dat die verhaal nie baie opwindend is nie. Interessante
karakters soos die seerowerrot, Vasco Slimrot, kon dalk 'n meer prominente rol
gespeel het om die spanningslyn uit te bou.
Nietemin, kan beide die uitgewer en die skrywer tevrede voel met 'n boek wat enersyds
'n vars persepktief op 'n ou gegewe bied en andersyds nog 'n lekker storie aan
jong lesers verskaf. Marianna
Brandt en Tanja Joubert (illustrasies) Human & Rousseau, 2002 Carina
Diedericks-Hugo
|