|
Suurlemoen! is 'n boek propvol humor en tiener-intriges.
Dit is 'n lekker ontspanningsoek wat mens met die ligte trant bekoor
waarmee dit geskryf is. Die inhoud is bekend, maar wat die boek
'n onvergeetlike leeservaring maak is die nuwe manier waarmee dit
aangebied word.
Die verskillende mediums wat deur Jaco Jacobs gebruik word in hierdie
boek is 'n welkome verandering van die gewone tienerverhaal. Die
visuele elemente komplimenteer die teks op elke moontlike geleentheid.
Die einde word slegs deur die verskillende mediums bewerkstellig
en alhoewel dit moontlik vir sommige lesers nie bevredigend genoeg
sal wees nie, is dit steeds 'n innoverende manier om die boek te
eindig. In hierdie geval is dit werklik so: "A picture is worth
a thousand words."
Die verhaal begin met 'n humoristiese insident met lipstiffie en
Mozart. Dit lei tot die ontstaan van die vier hoofkarakters, Tiaan,
Zane, Bongani en Liezl, se band. Zane, soos Tiaan hom beskryf,
is die moeilikheidmagneet wat baie vinnig verlief raak. Hy is spontaan
en gee glad nie om as al die aandag op hom is nie. Bongani aan die
ander kant is 'n karakter wat glad nie nonsens vat nie en die rigting
aangee vir die band net soos sy die pas aangee op die tromme. Liezl
is die slim en mooi meisie met die goue stem wat Tiaan en Zane se
voete onder hulle uitslaan. Tiaan is weer effens skaam met 'n romantiese
streep en 'n passie vir foto's en Post-It-Plakkers. Tiaan het ook
'n meer kreatiewe kant as Zane en vind dit moeiliker om oor sy emosies
te praat. Dit alles saam is 'n resep vir moeilikheid en liefde.
Tiaan is die interne verteller en fokalisator. Dit maak dit moontlik
om al die foto's en plakkers te gebruik aangesien die skrywer hierdie
metode gebruik om Tiaan se gedagtes bekend te maak. Dit bevorder
ook identifikasie tussen die tienerleser en die karakter van Tiaan.
Tiaan is die gemiddelde ou met die mal vriend wat al die aandag
kry. Hy en sy beste vriend wil soos alle tieners 'n band begin
en dieselfde meisie hê. Die situasies in die boek is iets
waarmee tieners werklik te doen kry en daarom kan hulle met hierdie
karakter op 'n persoonlike vlak identifiseer. Tiaan word uitgebeeld
op verskeie maniere sonder om dit oordrewe of selfbehep te laat
lyk.
Die skoolruimte wat in die boek gebruik word is nog 'n element
waarmee die tiener kan identifiseer. Die skool-politiek wat na vore
kom in die karakters soos Frik Venter, Cecile en Linette, maak die
ruimte geloofwaardig en interessant. Randkarakters soos hierdie
gee ook 'n dieper kykie in die skool-dinamiek en soeke na aanvaarding
en populariteit uit wat tieners daagliks ervaar.
Saam met die ruimte en karakters speel die taal en veral humor
'n groot rol in die verhaal. Die taal is op die tienervlak. Engelse
woorde word wel gebruik, maar soos die gemiddelde tiener dit sou
gebruik, dit is egter funksioneel sonder dat dit wemel van slang
woorde wat geen gewig dra nie. Die humor word op so 'n manier geïnkorporeer
in die verhaal dat dit op die kritiese oomblikke gebeur wat nie
net spanning verlig nie, maar ook die boek 'n ligter toon gee. Wat
die humor nog meer genotvol maak is dat dit reg deur die hele boek
loop en nie net losstaande insidente is nie. Mens verwag met hierdie
karakters dat iets skreeusnaaks gaan gebeur, en dit gebeur weer
en weer. Dit klink dalk nie realisties om 'n skool se radiostasie
gyselaar te hou nie maar alles is moontlik op hoërskool. Tipiese
gebeure soos die rumoer kompetisie en die liefdesdriehoek is meer
tradisioneel en dus ook vanselfsprekend geloofwaardige gebeure waarmee
die tiener kan identifiseer. Wat hierdie normale gebeure kleur gee
is hoe die karakters die situasies hanteer.
Suurlemoen! is 'n lekker boek vir die tiener en selfs vir
volwassenes wat wonder wat in die tienerwêreld aangaan of
vir die leser wat 'n boek net wil geniet.
|