|
Suurlemoen is defnitief
'n storie spesiaal gemik op die jeug van vandag. Die hele boek is
so geskryf en uiteengesit soos wat 'n tiener daarvan sal hou, selfs
die grafiese uitleg is vir 'n tiener.
Ek kon myself baie met die boek identifiseer aangesien
ek weet hoe dit voel om 'n band te begin, net soos Tiaan was ek
ook onseker en ek het nie so lekker geweet of dit 'n goeie idee
is nie, maar als het op die ou einde reg uitgedraai.
Die skrywer, Jaco Jacobs, is regtig op hoogte van
wat "in" is in 'n tiener se lewe. Die musiekgroepe wat
hy in die boek noem Nickelback, Coldplay en Greenday is vandag van
die beroemste musiekgroepe onder jongmense. Die style van die musiekgroepe
pas ook mooi in by die tipe musiek wat die band, "Suurlemoen"
wil maak ... Rock & Roll. Die skrywer het duidelik moeite gedoen
met navorsing sodat die boek aan sy teikenmark se vereistes kan
voldoen.
Die taalgebruik in die boek is ook tipies soos wat
'n tiener van die moderne era sal praat. Engelse woorde wat so hier
en daar bygevoeg word, laat my voel asof ek regtig tussen 'n klomp
van my skoolvriende staan wanneer ek die boek lees. Tiaan se gedagtes
wat op geel plakkers geskryf is verleen ook baie meer karakter aan
die boek, en elke tiener sal daarmee kan assosieer, want elke jongmens
het duisend gedagtes wat deur sy/haar kop vlieg, waarvan 80% van
die gedagtes nuttelous is.
My gunsteling deel van die boek is waar Liezl en
Tiaan bymekaar kom om aan die liedjies vir die band te werk, toe
hulle in die tuin gaan sit het, en die eienaardige gesprek oor 'n
tuinkabouter begin het. Dit is vandag regtig so, soos wanneer twee
tieners van mekaar hou dan kan hulle oor enige iets praat, selfs
oor die onbelangrikste van dinge. Ek kan myself net indink wat deur
Tiaan se kop gegaan het toe hy en Liezl oor die tuinkabouter begin
praat het.
My gunsteling karakter in die boek is Bongi. Sy
vat nie strooi van enige iemand nie en sy is ook nie bang om te
sê wat sy wil nie. Sy vat dinge soos dit kom, en dan vat sy
dit VAS!!!
Die graad 8' s van my skool het vanjaar die boek
in Afrikaans behandel. Ek het toe bietjie van hulle opinies gaan
vra oor die boek, en hier is die kommentaar wat ek terug gekry het.
"Dis 'n flippen cool boek!"
"Die boek het my beslis gemotivate om aan te hou met ons band!"
"Ek love vir Bongi, ek relate nogal met haar."
"Dis 'n baie goeie boek ... net dom dat die geld wat hulle
gewen het aan die skool moet gaan."
Persoonlik het ek die boek baie geniet, en sal enige
tiener aanraai om dit te lees. Selfs die ouers kan dit ook gerus
lees, dan kry hulle 'n kykie in 'n tiener se wereld en hoe dit tussen
sy vriende en skoolmaats lyk, met sy musiek en net reg mooi in sy
habitat.
|