Hierdie
verhaal van Martie Preller speel in wisselende werklikhede af. Dit handel oor
vier karakters, Nina, Daniël, Mathilde en Leonard wat vier uitverkorenes
uit "ideale stad - iewers in die toekoms? - is om aan 'n kompetisie deel
te neem. Kompetisie en wen is dan ook een van die sentrale temas in die roman.
Maar daar word ook besin oor die aard van verhoudings: tussen maats, tussen volwasse
gesagsfigure en kinders en tussen lede van die teenoorgestelde geslag. Die boek
ondersoek ook die diskrepans tussen skyn en werklikheid en veral die onuitpluisbare
vervlegting van kwaad en goed.
Indien
dit klink of die boek 'n swaarwigtige gepreek is, is dit 'n fout. Die storie word
vertel deur Nina. Haar karakter is oortuigend, so ook die ontwikkeling van die
verhouding tussen haar en Daniël. Leonard en Mathilde bly onbelangrike newekarakters.
Die feit word prettig in die perspektiefwisseling op p 95 deur die "skryfster"
aangedui. Die boek is pret, dit sluit aan by die leefwêreld van vandag se
tiener en het 'n volgehoue, sterk spanninglyn.
As voorgeskrewe boek sal hierdie teks lewe in vervelige letterkunde klasse in
die hoërskool inblaas. (Miskien moet voorskryfkomitees daarvan kennis neem.).
Daar is heelwat literêre truuks, literêre verwysings en simboliek
wat ontgin kan word. Of hierdie boek spontaan deur tieners gelees sal word, lyk
vir my egter onwaarskynlik. Die tienerlesers wat die boek vir my gelees het, het
dit nie altyd verstaan nie. Dit lyk my duisterheid bly nog 'n belangrike kriterium
vir "goeie prosa" in Afrikaans.