Die
Sanlamprys vir jeuglektuur, n gesamentlike inisiatief van Tafelberg Uitgewers
en Sanlam, word tweejaarliks toegeken. Dis n kompetisie waarin manuskripte
wat oor n bepaalde voorgeskrewe tema handel, beoordeel word en waarvan die
wenmanuskripte deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer word. Vanjaar was die tema
musiek en het Fanie Viljoen se Breinbliksem en
Francois Bloemhof se nie vir kinders nie, vir
die eerste keer in die geskiedenis van die prys gesamentlik goud ontvang. Aan
Engela Van Rooyen se boek Vuvuzela is silwer toegeken.
Vuvuzela Vuvuzela, geskryf deur die
gesoute outeur Engela van Rooyen, herinner sterk aan Van Rooyen se vorige township-storie,
Duiwe vir Botala. Teen die agtergrond van Suid-Afrika se Soccer Bid
vir Twenty-Ten word die verhaal van twee vigsweeskinders vertel: Buti die
ouer broer wat met toewyding alles doen wat menslik moontlik is om sy jonger broer,
Senke van huis en haard te voorsien en Senke, die dankbare klein boetie wat n
ambisieuse plan beraam om vir Buti op tasbare wyse dankie te sê. Die
verhaal word vertel uit die perspektief van Senke, die jonger broer. Die vuvuzela
(sokkerhoring) van die titel verwys na n moderner weergawe van
die beeshoring wat tradisioneel in swart gemeenskappe gebruik is wanneer belangrike
nuus of boodskappe afgekondig is. Dit word die simbool van alles wat vir Senke
die lewe aanmekaar bind: sy voorvaders, sy ma, die township-lewe, sokker en Buti.
Die karakters in hierdie verhaal val simplisties in twee duidelike groepe
uiteen: die goeies en die slegtes. Die goeies is baie goed en die slegtes baie
sleg. Daar is bitter min nuanses en karakterontwikkeling. Buti (en Senke) is darem
net te goed om mens te wees. Daar is by nie by een van hulle, soos mens sou verwag,
n sweempie bitterheid, verwyt of selfbejammering nie. Die enigste uitsondering
is die Teacher, Senke se mentor by die skool wat blyk voete van klei te hê.
Maar ook dit word simplisties aangebied. Die rede hiervoor (en nou maak ek my
eie afledings) is waarskynlik n agenda om swart mense positief uit te beeld.
Daarmee het ek geen probleem nie, want te veel Afrikaanse kinders klou nog aan
ou uitgediende persepsies oor swart mense vas. Dit kan egter nie geskied ten koste
van die skep van geloofwaardige karakters nie. Identifisering kan slegs plaasvind
en persepsies gevolglik slegs verander as daar in n roman n geloofwaardige
fiksionele wêreld geskep word. Ons weet dat jeugdige lesers (veral)
n hoë premie op geloofwaardige karakters en n sterk spanningslyn
plaas. Die roman slaag ook nie ten opsigte van laasgenoemde nie. Die verhaal is
dun en vir my soms plek-plek vervelig. Daar is nie genoeg gebeure wat trae lesers
sal laat aanhou lees nie, en nie genoeg kompleksiteit om ervare lesers te boei
nie. Die oordrag van inligting oor allerhande aspekte van die township-lewe -
die kos, die musiek, die ablusiegeriewe, ens.- en lewenslessies soos nee,
dis die beste om geld in n account te spaar, dan kry jy ook rente, het die
Teacher hulle in Economics geleer (p29), neem die plek van die storie in
en vind ek onaanvaarbaar patroniserend. Die geloofwaardige fiksionele wêreld
word verder ondermyn deur die lerende inslag van die roman, die (vir my) onnatuurlike
en moeilik leesbare taalgebruik en die oordrewe politieke korrektheid. Vergelyk
die volgende paragraaf: In die ou tyd, so vertel Bra Sam, is daar renosterhorings
gebruik om op te blaas, soos hulle gaan war maak. Maar waar sal jy vandag genoeg
renosterhoring kry, veral met die Conservation law waarvan hulle in die skool
leer. Senke het op n advertising poster gelees daar is n kwaito group
wat n renosterhoring gebruik. Hulle het seker n permit van die Governement
gekry (p6). Dit moet duidelik blyk uit bogenoemde dat die verhaal, hoewel
dit uit Senke se perspektief vertel word, afpraat na die leser. Dis n lerende
volwassene wat aan die woord is. Daarvan hou die gemiddele jeugdige leser ook
nie. Dit is ongetwyfeld noodsaaklik dat verhale van en uit die townships
verskyn om die leef- en leeswêreld van Afrikaanse lesers te verruim. Maar
gesien uit beide n literêre en leserkundige oogpunt, glo ek nie dat
lesers effektief ingetrek sal word in en geboei sal word deur die fiksionele wêreld
van Vuvuzela nie - die klaarblyklik lofwaardige doelstellings van die roman ten
spyt. Afrikaanse verhale wat die township-wêreld waarin so baie van
ons kinders leef geloofwaardig kan uitbeeld (uit n binneperspektief?), word
steeds dringend gesoek. Tafelberg Uitgewers. ISBN
0 624 04304 5 Maritha Snyman |