Hoewel
'n wenner in die Sanlam-prys vir jeuglektuur vanjaar, het Engela van Rooyen se
voortreflike township-storie Vuvuzela nie die aandag ontvang wat dit verdien
nie. Hier is 'n waardige wenner en met die intrap 'n pleidooi dat hierdie boek
'n móét is om te lees. Die rede is nie net die vooraanliggende township-tema
nie, maar die wonderlike wyse waarop die skrywer die seuntjie, Senke, sy wêreld
voorstel en verken. Jy lees agter die bekoorlike, plek-plek hartroerende verhaal
aan. Jy weet dis meer as net 'n storie, dis 'n verkenning van die psige van 'n
kind en sy sin maak van 'n wêreld waarin volwassenes dikwels faal om betekenis
aan te kan gee. Vuvuzela is die deernisvolle verhaal van die 12-jarige Senke
wat in 'n plakkerskamp woon en wat vir sy bestaan moet baklei. Hy woon saam met
sy grootbroer. Hulle is albei weeskinders. Buti staan voor Senke, Buti vat al
die slae en hy sorg dat Senke kos en klere het en dat hy skool loop om Grade Twelve
te kry. Daarom wil Senke 'n groot ding vir Buti doen om dankie te sê.
Hy het 'n geheime plan wat gekoppel is aan die World Soccer Cup wat in 2010 na
Suid-Afrika kom. Vir Senke se plan is daar ongelukkig geld nodig. Intussen stap
die tyd aan en 2010 kom nader. "Die verlede is sterk," het Mama gesê
toe sy nog gelewe het. Sy het gesê jy moet wag vir die krag van die verlede
om te werk. Maar nou het daar gister 'n slegte ding by die skool gebeur. Beteken
dit dat vandag ook sleg sal wees? En wat van môre? Die verhaal van Buti
se sorg, die hartklop van liefde wat in daardie sorgsaamheid te hoor is, is een
van die ontroerendste verhale wat nog in 'n jeugboek vertel is. Van Rooyen
het reeds met 'n vorige jeugboek wat in die township gesitueer was, gewys dat
sy die wêreld goed waargeneem en nagevors het. Haar taalvaardigheid laat
Afrikaans in die milieu kleurryk leef. Haar insig in die gemoed en verwagtinge
van 'n kind, laat 'n onvergeetlike indruk. Voorskriftelik wil ek hoegenaamd
nie klink nie, maar hier is iets vir die skolemark en behoort in duisende aangekoop
te word. Intussen is dit 'n ideale kersgeskenk en 'n móét vir elke
kind se huisbiblioteek. Engela van Rooyen het die Sanlam Silwer 2005 vir
Vuvuzela gewen. Dit word deur Tafelberg uitgegee. Amanda
Botha |