| Niki
Daly stel weereens sy besondere talente ten toon met Mamma Jumbo, die vriendelike
olifant, se huisbouery en die kuikentjie, Klein Tjiep, se aanneming in nommer
7-Up Zanzibarstraat. Kleurryke illustrasies komplimenteer die storie en maak die
karakters lewendig en geliefd. Die illustrasies is van so 'n aard dat 'n kleuter
wat die storie gehoor het, vir 'n lang ruk daarna nog deur die prentjies geprikkel
en geamuseer kan word. Zanzibarstraat is 'n eenvoudige verhaal ingedeel in vyf
hoofstukke, elk met 'n nuwe insident maar deel van die geheel waarmee elke kleuter
kan identifiseer. Mamma Jumbo is 'n deernisvolle karakter met alledaagse behoeftes
soos om 'n huis van haar eie te hê en iemand om haar lewe mee te deel sodat
sy nie alleen is nie. Die storie vertel hoe Mamma Jumbo huisbou, hoe haar vele
dierevriende haar help en hoe sy en Klein Tjiep saambly. Klein Tjiep is die karakter
waarmee elke kind sal kan identifiseer. Die verhaal is ryk aan alledaagse
gebeurtenisse soos bad, kinders wat wegraak, verjaardagpartytjies en skadus teen
die muur. Alhoewel die storie in eenvoudige taal geskryf is, is dit ook deurspek
met meer gevorderde woorde en frases wat die kleuter geleentheid bied om deur
middel van identifisering met bekende situasies die betekenis van nuwe woorde
self af te lei. Zanzibarstraat is 'n prettige verhaal meesterlik geïllustreer.
Daly kry dit reg om die hartlikheid wat gepaard gaan met goeie buurskap en die
sekuriteit wat liefdevolle verhoudings bied, in 'n interessante diereverhaal te
demonstreer. Zanzibarstraat is 'n kleuterboek waar nie een woord of 'n stukkie
papier gemors is nie. Selfs sonder die woorde is die boek se voorkoms alleen 'n
kleutermoet! Lapa Uitgewers. ISBN 0 7993 3506 1 Marionne
Minnaar |