Stel
jou voor jou stoutste droom word waar. Die een droom wat jy geweet het nie 'n
kans het om waar te word nie. Dit is presies wat met Ferdinand Basson gebeur.
Bergaf met sy fiets bevind hy hom een laatmiddag skielik op 'n misterieuse
dorp, misterieus en stil. Hier daag 'n eksentrieke inwoner hom tot 'n potjie skaak,
maar iets trek sy aandag: Wie is die pragtige blonde meisie wat hom bly ontglip?
Die Hart van Zeebak is 'n boeiende wetenskapfiksie-verhaal vir tieners
rondom 17 jaar. Die hoofkarakter, Ferdinand, was pas klaar met sy matriek eksamen
toe hy deur Leandra, 'n inwoner van Zeebak, na 'n ander dimensie ontvoer word.
Maar nie alles is pluis nie. Hoekom is daar so baie dinge wat hom aan sy tweelingbroer,
Ben, herinner, voor en na die ongeluk? En waarheen verdwyn die ou oom en tante
by wie hy loseer bedags? Benewens die nagmerries wat Ferdinand teister,
bly volg 'n robot hom en ten spyte van al sy vrae, steek Leandra steeds iets vir
hom weg. Daar is egter nie tyd om behoorlik oor hierdie dinge te tob nie: iemand
moet Nimron en Supremus se bose planne stuit. Die skrywer, Martie Preller,
bied hierdie bildungsroman op kenmerkende wyse aan: 'n jong held moet verskeie
(werklik en nie-so-werklike) hindernisse oorkom om dit waarvoor hy bestem is te
bereik. Die roman staan veral uit vanweë die keurige taalgebruiik. Preller
skram nie weg van die moderne woordeskat nie, maar boet geensins die ryke tradisie
van die Afrikaanse taaljuwele in nie. Die aanbod en verloop van die verhaal herinner
aan een van Preller se vorige romans, In die Tyd van die Esob (1996) Laasgenoemde
speel ook in 'n surrealistiese werklikheid af en soos dit hoort oorwin die goeie
uiteindelik die slegte. Die Hart van Zeebak is 'n opwindende, aksiebelaaide
jeugroman wat te midde van alles wat gebeur ook onder die oppervlak kyk.
Deur Ferdinand se ervaringe sien lesers hoe om ook dieper dinge te hanteer, selfs
al voel dit deel van 'n ander wêreld. Weereens 'n roman met die Preller-gehaltemerk.
DIE HART VAN
ZEEBAK deur Martie Preller (Tafelberg, R59.95) Mariana
Loots
|