Nes
'n sportman moet oefen om sy spiere soepel te hou sodat hy plek in een of ander
sportspan kan behaal, moet iemand wat wil skryf, oefen om te skryf. Elke dag 'n
bietjie skryf, al is dit net in jou dagboek of briewe aan jou ouers, penvriende
of vriende. Hoe meer jy skryf, hoe makliker vloei jou gedagtes. Gebruik
'n woordeboek as jy nie weet hoe om 'n woord te spel nie. Moet nooit skaam wees
om ander mense, wat meer van 'n onderwerp weet as jy, te vra om jou te help nie.
My ondervinding was nog altyd dat die kundige mense my graag wil help en raad
gee. As
jy 'n idee het, skryf dit in 'n boek neer wat jy spesiaal aanhou en merk die boek:
Idees vir Stories. Luister hoe ander mense praat sodat wanneer jy 'n dialoog
skryf, jou karakters soos regte mense klink wat praat. Daar is ook nie 'n muse
wat op jou skouer sit en jou inspireer om te skryf nie. As jy wil skryf en jy
dink jy het die talent om te skryf - begin! Wanneer jy weer 'n opstel in die klas
moet skryf, moenie dink. Uhhh
'n opstel nie. Maar sê: Jippie! Ek
gaan oefen om 'n storie te skryf! Onthou die vyf W's vir elke stukkie
skryfwerk: Wie? Waar? Wat? Waaroor? Waarom?. Jy sal baie foute maak,
net soos wat 'n sportman foute maak. Elke atleet kan nie elke keer wen nie. Elke
rugbybal gaan nie oor die dwarslat seil nie, maar moenie moed verloor nie. Hou
aan. Skryf en skryf en skryf! Onthou die uitdrukking: aanhouer wen! Ek het iewers
van die volgende 6 D's gelees wat elke skrywer se aansporing moet wees: "Desire,
Drive, Discipline, Determination, Dedication and no Distraction." |