1.
Skrywers is nie superheroes nie jy skryf nie n storie om die wêreld
te probeer red nie. n Mens skryf dit omdat stories soveel pret is.
2.
As jy nie baie fluks is nie, moet jy eerder medies gaan swot of n staptog
om die wêreld onderneem as om n boek te probeer skryf. Skryf is vrek
harde werk en as jy wil skryf sal jou agterent baie goeie vriende met jou lessenaarstoel
moet word.
3.
Skryf die soort stories wat jy self graag wil lees. As jy nie hou van liefdesverhale
nie, moenie jou tyd mors om liefdesverhale te probeer skryf nie.
4.
Moenie probeer jok nie skryf goed soos hulle regtig is. Sodra jy begin
skryf soos jy dink ander mense wil hê jy moet skryf, gaan dit simpel begin
klink. As jou karakter n tiener is, moet hy praat soos n tiener; nie
soos volwassenes wil hê n tiener moet klink nie.
5.
n Storie is nooit klaar na die eerste skryfsessie nie. Jy gaan dit nog honderde
kere moet oorskryf.
6.
Om stories te skryf is heerlik. Sodra dit sleg begin word, doen jy iets verkeerd.
7.
Skrywersblok bestaan nie. Dis iets wat uitgedink is deur mense wat nie wil hê
jy moet skryf nie.
8.
Moenie stories skryf om ander mense te probeer beïndruk nie. n Goeie
liefdesgedig kan wondere vir jou romanse beteken, maar die hartseerwaarheid is
rugbyspelers en sexy aktrises gaan ALTYD meer aandag kry as skrywers.
9.
Moet jou nie te veel steur aan kritiek nie.
10.
Skrywers kan partykeer soos superheroes voel. Ja, ek weet wat my eerste wenk was
ek sê nog steeds jy moenie skryf om die wêreld te probeer red
nie. Maar superheroes is mense wat onmoontlike goed kan regkry en as jy
n goeie storie skryf, kan jy ook. Jy kan kinders op besems laat vlieg, diere
laat praat en nuwe wêrelde skep. Ongelooflik.