Wanneer 'n oorwerkte keurder by 'n uitgewery jou manuskrip oopmaak
en begin lees, moet jou storie haar met die intrapslag boei, anders
is die kans skraal dat sy verder as die eerste paar paragrawe
sal vorder voordat sy dit opsy stoot. As hierdie houding vir jou
hard en ongenaakbaar klink, moet jy jouself hierdie vraag afvra:
As my storie nie 'n leesfiks volwassene kan boei nie, wat is die
kans dat dit 'n ongeduldige kind sal interesseer?
Om 'n nuwe boek te begin lees is vir die meeste jong lesers 'n
groot uitdaging. Hulle wonder of dit die moeite werd gaan wees
en of daar nie dalk iets lekkerders is om te doen nie. Dikwels
kla hulle: "Ek kom nie in die storie in nie
"
Alte dikwels word hulle bestempel as "lui om te lees",
terwyl dit in werklikheid die skrywer is wat nie 'n skerp gefokusde
produk gelewer het nie. Te dikwels is die storie se begin belas
met onnodige karakters, langdradige beskrywings en trae insidente
wat die storieprobleem verbloem sodat die leser nie weet wat aangaan
nie en verveeld en gefrustreerd voel.
Indien jy as skrywer wil hê jou boek moet verby die neersit-toets
kom, moet jy jou storie só skryf dat jou lesers onmiddellik
by die hoofkarakter, plek en probleem betrokke sal wees en nie
sal kan wag om om te blaai nie. Met ander woorde, jy moet 'n sterk
begin skryf.
Dit beteken jou storie moet drie elemente hê. Eerstens
moet daar 'n karakter wees wat só vreemd, anders of dinamies
is dat die leser eenvoudig móét weet wat alles met
hierdie persoon gaan gebeur. Tweedens moet die storie wegtrek
by die oomblik van verandering in die lewe van die karakter. Nié
daar waar sy opstaan, aantrek, kombuis toe stap en haar mieliepap
eet net om drie bladsye verder haar tande te borsel nie. Nee,
daar waar iets gebeur sodat alles dramaties anders is. Derdens
moet jou storie wegtrek met aksie, dialoog en 'n prikkelende probleem
wat jou leser sal laat sê: "Wat nou?"