|
Skryfoefening 15 uit "Die land van stories"
a) Jy sit nou êrens in hierdie boek en lees en jy gaan nou
weer skryf. Waar is jy?
b) Wat sien jy?
c) Wat hoor jy?
d) Wat ruik jy?
e) Wat voel jy? (met jou tone/vingers)
f) Wat proe jy? (Jy drink/eet darem seker iets?)
g) Wat sê jou sogenaamde "sesde sintuig" op hierdie
oomblik vir jou?
Motivering vir skryfopdrag 15
Prentjies
Ons het nou reeds "Wat dink jy?" en "Wat voel jy?"
gedoen. Hier is nou sprake van die sintuie.
Wanneer 'n mens skryf, het jy slegs woorde tot jou beskikking.
Daardie woorde moet prentjies maak in jou leser se kop. Hoe? Jy
moet die lesers se sintuie betrek, sodat dit vir hulle voel, asof
hulle werklik in die storie is, al sit/lê hulle êrens
en lees 'n boek. Selfs al skryf jy 'n prenteboek, moet jou storie
prentjies maak in die illustreerder se kop!
Nou!
Hierdie skryfopdrag is ook nuttig om jou eie waarnemingsvermoëns
op te skerp. 'n Groter bewuswees van die gebeure rondom jou, bring
ook 'n meer daadwerklike besef van in die oomblik "leef".
Dis 'n algemene menslike kwaal dat ons óf in die verlede
óf in die toekoms leef, óf, byvoorbeeld, tob oor alles
wat "verkeerd" geloop het, óf in dagdrome visualiseer
van hoe alles beter kan word, indien dit nie op die oomblik na jou
smaak is nie. Maar ons leef oomblik vir oomblik - dis die realiteit
van menswees. Of ons dit wil weet of nie, elke minuut wat verby
is, is verby! Klein kindertjies leef net in die oomblik! Eers wanneer
hulle groter word, kry hulle 'n "verlede" en 'n "toekoms".
Karakters doen natuurlik dieselfde as ons! Wat jy in jóú
"oefen", sal jy makliker in húlle kan beleef en
skryf.
|