| |
| Harde
wenke vir sensitiewe siele | | Riana
Scheepers |
- Daar
is niks romanties aan skryf nie, dit is harde, harde werk. As jy dink stories
kom soos fêries in die nag, is jy verkeerd. Hulle kóm soms soos fêries
in die nag, maar dan is dit 'n wonderwerk, moenie daarop reken nie. Skryf is genadeloos,
dit laat nie baie ruimte vir fyn nerwe nie.
- Moenie begin skryf
omdat jy dink dit gaan jou ryk maak nie. Of beroemd. Jy sal miskien eendag ryk
en beroemd wees, maar dan is dit 'n wonderwerk, moenie daarop reken nie. En ás
jy ryk en beroemd is, onthou dan steeds dat 'n kunstenaar floreer op basiese instinkte.
'n Skrywer wat dink dat hy vreeslik goed kan skryf, skryf nie meer goed nie.
-
Kuns gaan nooit oor flou emosies nie. Skryf oor dit wat jou ontroer. Of kwaad
maak. Of gelukkig maak. Om oor die geluk te skryf, is die moeilikste, jy gaan
dalk verder kom met die kwaad en die ontroering.
- 'n Kunstenaar
sê nooit nee vir 'n opdrag nie. Daar is niks so stimulerend soos 'n opdrag
(en 'n sperdatum) nie.
- Moet nooit sê: "ek het nie
tyd nie". Niemand van ons het tyd nie, jy máák tyd!
-
Moet nie met ander mense oor jou verhaal praat terwyl jy skryf nie, jy praat die
positiewe energie van jou storie skoon weg. Moet ook nie jou verhaal aan ander
mense gee om te lees nie, vir dieselfde rede. Maak klaar sover jy kan, voordat
jy daaroor praat of vir ander mense wys.
- Luister graag na ander
mense se menings oor jou verhaal, maar onthou: dis jóú verhaal,
vertrou jou eie instinkte.
- As jy skrywersblok het, skakel die
radio en televisie af. Permanent. Ja, ek bedoel dit. Vir ten minste 'n week luister
jy na geen musiek nie en jy lees vir 'n week lank nie één boek,
tydskrif, koerant of selfs pamflet nie. Nie eens 'n kookboek nie. Dit is verstommend
hoe ons onse koppe volprop met dinge wat namens ons dink en voel. Ek belowe jou,
na 'n week van stilte, waarin jy kans kry om na jouself te luister, skryf jy.
- As jy nie weet waaroor om te skryf nie, klim in jou kar en ry
'n verskriklike ver ent. 'n Duisend kilometer of so. Sonder om die radio aan te
sit. Ná daardie duisend kilometer in stilte sal jy weet wat jy moet doen.
-
Moet nooit 'n geleentheid laat verbygaan om te skryf nie. Skryf jou eie verjaarsdag-
en groetekaartjies, skryf briewe, skryf notisies, skryf vir die verkeersdepartement
waarom hulle jou afslag moet gee op jou spoedboete. 'n Atleet hardloop elke dag
'n paar kilometers om fiks te bly, 'n pianis speel elke dag toonlere om sy vingers
soepel te hou, 'n skrywer skryf.
- Maak van elke sms-boodskap 'n
klein verhaaltjie. Of 'n gedig. Of ten minste iets ánders as net 'n simpel
sms.
- Moenie jaloers wees op ander skrywers nie, moenie sê
jy kan dit ook doen nie, DOEN dit.
- Om 'n boek te skryf is soos
om 'n olifant te eet. Of 'n braambos uit te kap. Hoe doen jy dit? Jy eet hom stukkie
vir stukkie. Of jy sny bietjie vir bietjie. Elke dag. Op 'n dag het jy 'n olifant
opgeëet en 'n hele braambos uitgekap.
|  | | Riana
Scheepers | | Terug
na skryfgeheime |
 |
|