As
ek nou in Australië was, sou ek só begin het: "G'day, mate, my
name is Lynnéh Cilliers." Maar op die oomblik kuier ons in Suid-Afrika.
Ek is 9 jaar oud en in graad 4 in die Hanwood Openbare Skool in Griffith, Australië.
Op Kersdag 2003 het ons na Australië gevlieg. Dus bly ons nou al 16 maande
in die land van die kangaroe. My pa is 'n stadsbeplanner en my ma 'n suster by
die hospitaal. My suster, Ellyn, is in graad R. Griffith, die dorp waarin
ons bly, is in Nieu-Suid-Wallis. Dit het omtrent 24 000 inwoners. Rondom Griffith
is daar baie lemoenboorde en druiweplase.
My skool is 'n plaasskool.
Dit is die oudste skool in Griffith. Daar is omtrent 200 leerlinge in die skool.
Omdat daar baie Italianers in Griffith is, is een van my skoolvakke Italiaans.
Ons eet dikwels Italiaanse kos.
Oor naweke en in vakansies het ons gesin
baie interessante plekke in Australië besoek.
In 'n dorp met die
naam Shepperton het ons Mooooooving Art teëgekom. Dit is koeie - beelde van
koeie, nie regte koeie nie - wat in allerhande helder kleure geverf is.
In Melbourne het ons die hele dag trem gery en in die see geswem. Ons was
ook al in Sydney. Daar het ons die bekende operahuis gesien en ook die groot hawebrug.
Canberra was ook baie wonderlik. Dit is die hoofstad van Australië.
Daar is te veel museums, 'n mens kan nie alles in een dag sien nie. Die lekkerste
plek vir my was egter Falls Creek met sy baie sneeu. Ons het ure lank op die klein
houtsleetjies ge-"taboggen".
In die herfs maak hulle hier in
Griffith groot sitrusbeelde van lemoene. Die beelde word gebou deur verskillende
groepe in die dorp. Die beelde kan dae aaneen gesien word.
Daar is baie
riviere in Australië, soos die Murrayrivier, die Murrumbidgee, die Snowyrivier
(julle ken mos The Man from Snowy River?) en die Lachlan-rivier.
Ons
het tot nou 'n baie lekker 16 maande in Australië gehad, waar daar so min
misdadigers is.
Maandag vlieg ons terug na Australië. Ek sien baie
uit daarna. See ya later! |