My
naam is Lize Marx, ek is nou 7 jaar oud. Ek het op 11 Junie 2003, 7 uur die aand
al my familie en maatjies gegroet op Jan Smuts Lughawe. Ons het toe gevlieg na
Amsterdam en op 12 Junie 2003, 11 uur die oggend op Leeds-Bradford Lughawe in
Engeland geland. My pappa is 'n tandtegnikus en Mamma is 'n huisvrou. Ek het ook
'n boetie, hy is nou amper 2 jaar oud, sy naam is Ruan.
Ek
hou daarvan om hier te lewe, dit is 'n baie lekker Engeland. Die somer was baie
mooi en warm en in die winter het dit al lekker gesneeu. Ons het 'n sneeuman agter
die huis gebou. Ek mis my niggie Karla baie! Voordat
ons 'n kar gekoop het, moes ek bus ry om by die skool te kom. My skool se naam
is Thackley Primary School, ek is die enigste Suid-Afrikaner in die skool. Die
maatjies lag as ek Afrikaans met hulle praat. Max, Sydney, Lucy, Dale, Nicola
en ek speel lekker saam by die skool. My juffrou se naam is Mrs Gresswell en Mrs
Greenwood. Mrs Greenwood is my leesjuffrou, sy is die wonderlikste juffrou in
die hele wêreld. Die skooldag is lank, van 9 uur tot half vier in die middag.
Ons werk ook op die rekenaars by die skool, ICT. Ons
voel baie veilig hier. My pappa werk baie lekker. Ons bly in 'n huis ouer as 100
jaar, ek slaap in die heel boonste kamer met 'n dakvenster nes Liewe Heksie se
kombuis. Ons het ook al ons Afrikaanse videos van Heidi en Heksie saamgebring
en ook al ons Afrikaanse storieboeke. Daar is drie vloere met 'n kelder onder,
dis baie spooky daar. Ons
het visse, een se naam is Blondie, ander een is Blackie en ander een is Goldie.
Ek en my boetie gee vir hulle saam kos. Ek het ook twee mooi teddies, hulle name
is Rain en Soft. My Ouma het oor Kersfees vir ons kom kuier en BAIE persente saamgebring.
Dit was baie lekker, ek het vir haar Skipton Castle gaan wys, ook Rievaulx Abbey
en Pickering Castle. Ons het ook op Scarborough se strand geloop waar ek skulpies
en klippies opgetel het. Dit was baie mooi. Ek
mis Suid-Afrika baie, en ek mis my troeteldiere en ons groot tuin. |