2017-09


jongklomp

verinniewêreld

'n Franse avontuur

chrismarie bester

 

Deel 2

... reis en aankoms ...

Volg twee vriendinne se avontuur in die vreemde


an-mari fouche

Chrismarie: Tien ure op ’n vliegtuig met te min beenspasie (ek is nogal lank en al die sitplekke by nooduitgange was reeds bespreek) en mense reg rondom jou wat net Spaans praat is nie ’n grap nie. My vlug was met Iberia lugrederye, ’n Spaanse lugredery, en ek het dus ’n ses ure lange ‘layover’ in Madrid gehad. Ek het so baie tyd voor die tyd spandeer om myself voor te berei om in Frans te kan oorleef, dat dit nie eers by my opgekom het om ’n paar Spaanse woorde te leer nie. Dit was ’n fout. Omtrent niemand op daardie lughawe kon Engels praat nie. Dit was ’n lang ses ure. My volgende vlug was net ’n uur lank, en ek land toe in Biarritz (dink Bloemfontein lughawe), en dis waar ek een van my Engelse juffrouens, van die skool waar ek werk, ontmoet het. Ek was so verlig. Ons is toe kar toe, en uit gewoonte mik ek reguit vir die linkerkant van die kar, en klim toe amper by die bestuurder se kant in. Ek wens ek kon ’n foto van haar gesigsuitdrukking neem. Ek het vir die res van die rit gekoes en vas geglo ons gaan in iemand vas ry – die karre kom dan van die verkeerde kant af! Ek kyk nou nog na die verkeerde kant van die pad eerste as ek moet oorsteek. Dit is ’n probleem.

An-Mari: Myne was ook ʼn lang reis. 3 ure in die kar van die huis af tot in Pretoria. ʼn Vyf ure lange vergadering. Nog ʼn uur op die pad OR Tambo toe. ʼn Rondskarrel om geld om te sit in euros, kragpunt ‘adapters’ te kry, in te boek – en die afskeid. Elf ure op ʼn vliegtuig waarvan ek miskien een kon slaap. Teen die oggendure het ek verskriklik naar begin raak – ʼn naarheid wat eers ʼn week later heeltemal verdwyn het. Tussen lughawens en stasies, vliegtuie en treine, deurmekaarheid en naarheid en verwardheid deur, het ek op die ou einde (na meer as 27 uur van reis) in Béthune aangekom.

Chrismarie: So tussen deur die gekoessery kon ek darem ook ietwat konsentreer om by die venster uit te kyk om te sien waar ek nou eintlik is. Biarritz, Anglet, en Bayonne is drie dorpies wat so te sê in mekaar vloei, maar steeds baie verskillend is. Hulle vorm deel, saam met nog ander kleiner dorpies, van die Baskenland (Pays Basque), wat strek oor ’n deel van noord-Spanje en suidelike Frankryk. Die Baskenland het ook sy eie taal – Basque. (Dit is nie ’n mengsel van Spaans en Frans, soos ek aanvanklik gedink het nie, maar ’n unieke taal, wat vir my soms soos Russies klink.) Hier is egter nie baie mense wat die taal kan praat nie.

Ek bly in Bayonne, wat tussen die drie, die oudste dorp is. Van die geboue hier dateer terug tot die sestiende eeu. Dis asemrowend mooi. Daar loop twee riviere deur Bayonne; die Adour, wat in die see in loop, en die Nive. My gunsteling plek in Bayonne tot dusver is langs die Nive – dis waar al die mooiste geboue is met groen, blou en rooi hortjies voor die vensters.

cm1

 


An-Mari: Béthune is net so mooi! Die dorpie het ʼn ou-wêreldse gevoel; met die Vlaanderse argitektuur, ou geboue, klein straatjies. Daar is om elke hoek en draai ʼn boulangerie en die reuke is verleidelik. Frites is volop. Die kloktoring in die middel van die dorp speel elke kwartier ʼn bekende Noordse deuntjie. Ek kan vir ewig in die Grand Place sit en staar vir die geboue. En in die nag word die beffroi verlig en verander die plein in ʼn sprokiesland.

bethune

Chrismarie: Ongelukkig bly ek nie in een van die mooi geboue hier nie; ek bly by die skool in een van die koshuise, maar so betaal ek net 98 Euros, en het meer geld om rond te reis. Dis ’n vyf minute busrit van die “Centre Ville” (middedorp) af. Ek deel dus ’n badkamer, sitkamer en kombuis met die Chinese assistant.
Al wat ek oor my verhouding met die Chinese assistent kan sê is dat dit baie interessant is, met geen gebrek aan opwinding nie. Sy kan nie regtig Engels praat nie, en ek kan uit die aard van die saak ook nie Mandaryns praat nie, so ons primêre taal van kommunikasie is Frans. Uiters gebroke Frans. Dit is dikwels baie snaaks, maar dit het ook al gesorg vir ’n paar onaangename misverstande. Om nie eers die kultuur-gaping te noem nie.

An-Mari: Ek bly ook in die skool self; in een van die studio woonstelle wat beskikbaar is vir die studente. Teen 50€ ʼn maand is dit ʼn winskoop. Ek het my eie kombuisie, eie badkamer, en ʼn groterige kamer met ʼn mooi uitsig op die straat en ʼn herfskleurige boom net buite my venster. As ek by die venster uitkyk sien en mense staan en wag by die busstop. Ek hoor gedurig die vrolike en luidrugtige Franse stemme van die skoliere.

Ek werk by 2 skole: Lycée Louis Blaringhem (Gr 10 tot 12), en Collège Albert Debeyre (Gr6-9). Ek vat elke Dinsdagoggend om 8 die bus Beuvry toe; die aangrensende dorpie waar die Collège is. Blaringhem is ʼn groot skool; meer as 800 studente. Iemand het vir my gesê dis een van die meer gegoede skole in die omgewing. Ek geniet Debeyre ook, maar dis heelwat kleiner.

Debeyre

Chrismarie: Ek werk ook by twee skole. Die skool waarby ek bly is ’n Lycée, wat beteken, hier het ek te doen met 15 tot 18 jarige studente. Die ander een is ’n Collège, wat skoliere van 11 tot 14 jaar oud het. Ek werk sewe ure per week by die Lycée, en vyf ure per week by die Collège.

Nou, laat ek jou sê – dis nie noodwendig so maklik om tieners te kry om in ’n taal te praat waraan hulle geen blootstelling het, behalwe by die skool, soos wat ek gedink het nie. Boonop is Engels ’n verpligte vak in Frankryk, so dis ook nie te sê hulle wíl dit leer nie. Daar is enkeles wat regtig wil leer en verstaan.
Skoolure in Frankryk is vanaf 8:00 tot en met 17:00/18:00. Ek voel jammer vir die studente en onderwysers, en dank my sterre vir my 12 ure per week.

(Nota: Die Franse is baie trots op hulle taal. Oral waar ek gaan weier mense om Engels te praat. Hulle sal selfs maak asof hulle nie verstaan nie, maar die oomblik wat ek oorskakel na Frans is hulle die vriendelikheid (en behulpsaamheid) vanself. Alles hier is in Frans: Televisie, etikette op produkte in die supermarket – alles. Ek dink dis iets wat dit vir ons in Suid-Afrika makliker maak om Engels te leer praat. Ons het baie meer blootstelling.)

fr2

An-Mari: Sover het ek meestal nog net geobserveer en myself voorgestel. Ek kry baie vrae, soos “Wat eet julle?”, “Hoe lank het dit gevat om hier te kom?”, “Kan jy Frans praat?” (waarop ek gewoonlik antwoord net ʼn baie klein bietjie, anders wil hulle Frans in plaas van Engels praat met my), “Watse tipe stereotipes het julle oor die Franse?” en nog meer. Party studente kyk my net aan met sulke leë uitdrukkings op hul gesigte (en ek het skielik baie meer simpatie vir al my onderwysers en dosente), maar party ander kan nie ophou vrae vra nie. Een meisie veral het my beïndruk. Haar Engels is baie swak, maar sy het geen gebrek aan selfvertroue nie, en vra soveel vrae in haar gebroke Engels as wat die onderwyseres haar toelaat.

Chrismarie: Die studente is almal baie gaaf en baie nuuskierig. Ek het ’n PowerPoint voorlegging voorberei oor Suid-Afrika (goed wat ek al self vergeet het) en ek kry heelwat “oeh’s” en “ah’s”, en baie interessante vrae. Sover het niemand my nog gevra of die leeus in die strate loop nie.

Dit bygesê, die mentaliteit in Frankryk verskil baie van ons s’n. Dissipline hier is nie wat dit in Suid-Afrika is nie – al dink ons dis nie baie goed nie, glo my, dit is. Dieselfde geld vir respek. Veral teenoor iemand ouer as jy self.

An-Mari: Op ʼn ander noot: Frankryk gaan my vet maak! Hier is soveel lekker kos. In my dorp is daar om elke draak ʼn bakkery, ʼn chocolatier, ʼn fritterie of ʼn roomyswinkel – of al drie. Chez Pepito is ʼn baie gewilde uithangplek vir die studente; lekker kos in groot hoeveelhede teen relatief lae pryse. Pryse in Frankryk is oor die algemeen duurder as in Suid Afrika, en ek sukkel om 1,50€ (ongeveer R23,50) te betaal vir ʼn koppie koffie wat ek in 3 slukke kan klaarmaak.

Ek en van die ander assistente het die afgelope naweek op ʼn uitstappie gegaan na die mynhope hier naby. Dit was nogal ʼn belewenis! Ons het tot op een van die hope geklim-stap en lank daar gestaan en kyk na die uitsig en fotos neem. Na dit het ons gaan piekniek hou in die park (oftewel le jardin public), en toe by Nautilus (nog een van ons gunsteling kuierplekke) gaan koffie drink terwyl die wat musikale talent het kitaar gespeel en gesing het.
Een van die lekkerste dinge vir my sover is die verskillende kulture en tale onder ons. Ons groepie bestaan uit mense van Engeland, die VSA, die Honduras, Ecuador, Wallis, Argentinië, Mexiko, Oostenryk, en natuurlik SA en Frankryk. Die verskillende aksente is fassinerend. En as ons almal probeer Frans praat is dit partykeer nogal sports!

an-mari

vriende

Chrismarie: In Bayonne is die gewildste ding om te eet hulle bekende ham. Jambon de Bayonne noem hulle dit. Jy kan dit in enige vorm of dis eet. Dis verskriklik lekker – dit het ’n rooierige kleur, dis baie souterig en word baie dun gesny. Nog ’n ding wat baie gewild is hier is ‘Brebis’ – skaapmelk. En kaas wat daarvan gemaak is. En brebis-roomys. Dit het ’n sterk smaak, maar ek is mal daaroor. Die brebis-kaas en jambon, op ’n baguette, met kersiekonfyt is ’n hemelse kombinasie.

Bayonne is blykbaar een van die eerste dorpe in Frankryk wat bekend was vir hulle sjokolade – in die sestiende eeu al! Ek het nog nie hierdie bekende sjokolade probeer nie, maar dis beslis op my lysie. Ek het wel al te veel Chocolatines geëet (Dis soos ’n croissant met sjokolade stukkies is. In die res van Frankryk word dit Pain au Chocolat genoem, maar in die Bordeaux streek is dit Chocolatines. Dis blykbaar ’n baie sensitiewe saak.). Daar is ’n bakery met die beste Chocolatines om die hoek van my skool, en ek en die tannie ken mekaar al op die naam.

Gelukkig dink ek nie ek sal vet word nie – in Frankryk stap mens vrek baie. Dis vir my die lekkerste deel. Ek kan enige plek heen stap en daar is elke keer iets interessants om te sien. Ek het permanent my selfoon by my om fotos te neem, al is dit net ’n mooi vensterbank. Daai met die potplante in.

Hier is nog ʼn paar fotos van waar ek bly:

Bayonne, Centre Ville

Bayonne, Centre Ville

Biarritz se vissers-hawetjie.

Biarritz se vissers-hawetjie.

Ek was vir ’n dag Bordeaux toe. Dis asemrowend mooi.

An-Mari: Dis soo mooi! Ek gaan defnitief bietjie daar gaan kuier. Hier is nog fotos van my plek:

Die ‘Jardin public’ oftewel parkie is Béthune.

Die ‘Jardin public’ oftewel parkie is Béthune.

Die Grand Place in Lille.

Die Grand Place in Lille.

L’église Saint-Vaast in Béthune; ʼn Gotiese-styl katedraal.

L’église Saint-Vaast in Béthune; ʼn Gotiese-styl katedraal.

Vir die vakansie gaan ons Parys toe vir ʼn week: nie Parys in die Vrystaat hierdie keer nie, die regte een! Ons kan nie meer wag nie – ons drome word links en regs waar. Sien uit daarna om julle volgende keer meer te vertel daaroor!

pyllinks
vervolg
 
An-Mari Fouché en Chrismarie Bester is skryfkunsstudente by die NWU. 2017
Terug na Verinnniewêreld

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016