Ons
het op 30 Julie 1999 die oggend hier in Jakarta, Indonesië geland. Ek het
gehoop dat dit dieselfde sal wees as al ons ander buitelandse poste wat my pa
al gehad het maar dit was toe nie... Die plek is ongelooflik mooi en die
"shopping malls" is ongelooflik groot. Ek vind dit baie moeilik om hier
te bly omdat ek gewoond is om rond te loop, maar hier moet 'n mens ry om êrens
te kom. Die lugbesoedeling is ongelooflik dik - 'n mens kan nie eers die sterre
of die maan sien nie. Op die oomblik is ek in die Australiese Internasionale
Skool. Ons is omtrent so 21 kinders in Gr11. Dis nogals lekker en amper dieselfde
as die skole in Suid-Afrika. Ons doen net 'n bietjie baie meer werk en ons doen
nou op die oomblik werk wat die kinders in Suid-Afrika in matriek doen. In
die middae wanneer ek van die skool af kom, slaap ek, gaan na die massiewe winkelsentrums
toe, of doen my huiswerk. Naweke is dit so bietjie anders: ek spandeer meeste
van my tyd op die internet en doen oefeninge om my gedagtes op 'n ander plek te
sit as Suid-Afrika omdat ek so baie verlang na almal... As 'n mens na Jakarta
kyk en dan na Suid-Afrika, sal 'n mens eerder Suid-Afrika kies. Die redes daaroor
sal wees: Jakarta het ongelooflike dik lugbesoedeling en daar's elke dag 'n verkeersophoping
en mense wat baie daarvan hou om hulle toeters te druk. Die plek is nooit rustig
nie - daar's altyd 'n geraas. Waar as 'n mens nou in Suid-Afrika is, hoor jy nie
heeltyd toeters en jy sit nie twee ure in 'n kar net om by die naaste winkelsentrum
uit te kom wat net twee blokke van jou huis af is nie. 'n Mens kan ook nie hier
loop nie, want dis te warm. Hier's ook nie winter nie. Die hitte reg deur die
jaar put 'n mens maar baie uit. Mens moet versigtig wees met wat jy eet, en
moet veral nie op straat kos koop nie - jy sal sommer 'n week of twee in die bed
of in die hospitaal lê. Ek het daardie fout gemaak en vir drie weke in die
bed gelê en sop met brood geëet. Hotelkos en restourantkos is die beste
- amper beter as die kos in Suid-Afrika en proe net so klein bietjie anders, maar
is lekker en eetbaar. Ons moet ook baie funksies en etes bywoon. Met al die
plek se nadele is daar baie voordele. My pa vat my en my ma so elke derde naweek
uit Jakarta sodat die stress so bietjie afsak... Die vakansieplekke hier is wonderlik
- veral die duisende eilande: tropiese visse in kristalblou waters met helder
son en pragtige blou lug. Wonderlik! Net wat 'n natuurpersoon nodig het na 'n
harde paar maande in die besoedeling en verkeer... Maar basies al soos ek
maar altyd se "DIE GRAS IS GROENER BY DIE HUIS" |