My
eerste ervaring van Japan was wonderlik! Toe ons na 'n LANG vliegtuigrit uiteindelik
op die loopbaan van die Japanese lughawe in Fukuoka geland het, was ons baie verlig
dat ons na maande van swerwe uiteindelik ons doel bereik het. Ek het nog nooit
(behalwe in flieks) so baie motorkarre en motor-taxis gesien nie. Orals waar jy
kyk is daar hoë geboue wat op mekaar gepak is. Nêrens sien jy dat die Japanese
plek mors nie! Die huise is so naby mekaar gepak, dat die dakke amper raak. Dit
is nou 'n gesig! Vervoer in Japan Die openbare vervoer in Japan
is uitstekend! Jy het 'n keuse van bus ry, taxi, drie keuses van trein ry, vliegtuig
en 'n ferry boot. Orals sal jy busse sien wat jou na enige plek vat in Fukuoka.
As jy net jou hand lig, dan stop daar 'n taxi voor jou voete. Dit kan miskien
'n bietjie duurder wees as ander vervoer, maar as jy voor die stoep van jou bestemming
afgelaai wil word, kies jy 'n taxi. Treine in Japan is heeltemal anderste
as die van SA. In SA is daar amper geen openbare vervoer-treine nie, maar in Japan
ry biljoene mense per dag trein. Jy kry 'n moltrein, drie soorte spoed, bo-grondse
treine en die koeël-trein wat jou na ander dorpe toe vat. Die vliegtuie in
Japan is die selfde as in SA, behalwe dat die prys baie goedkoper is! Al is die
rand se waarde so sleg teen die Yen, is dit goedkoper. Vir 'n vlug enige plek
in Japan is dit ¥10000 (R600)! Dan kry jy die ferry! As jy gewoontlik met
'n kar ry, ry jy na die hawe toe waar jy op 'n ferry se dek ry en dan vat die
ferry jou na een van die ander eilande toe. Die tegnologie en organiseerdheid
Alles in Japan is georganiseerd!! Op die treinstasies wag jy minder as
drie minute en dan is daar 'n trein. Die busse in Japan is heeltemal anderste
as in SA. Die busdrywers het 'n mikrofoon voor hulle mond, waarop hulle jou die
heeltyd inlig waar jy nou is. Hulle waarsku jou ook elke keer wanneer die bus
gaan stop by 'n robot of stopstraat en wanneer die bus gaan draai. Al die
openbare toilette is almal mooi versorg. Al die toilets spoel outomaties en hulle
verhit jou ook van onder. My skool My ouers gesê ek gaan tuis
skool doen op die computer. Maar ek het verkies om na 'n publieke skool toe te
gaan. 'n Internasionale skool is te duur, so net 'n Nasionale Japanese skool was
die enigste opsie. Na 'n ruk het dit 'n baie sterk moontlikheid geword, want so
sal ek ook die taal die gouste baasraak. Toe besluit ons dus om by die skoolhoof
'n draai te maak. By die skoolhoof was alles in orde en die besluit is geneem
dat ek van April (wanneer die Japanese skool se jaar begin) na die Japanese skool
toe gaan. Ek moet net darem my wiskunde, Afrikaans en Engels op Breinlyn doen.
Toe ek en my ouers deur die skoolgebou gestap het na die saal, was dit chaos.
Al die kinders wat my gesien het, het geskree: "Amerikajin!!" (Amerikaner) en
toe my ouers vir hulle vertel ek kom van SA, was daar nog meer chaos! Al die meisies
het om my gedrom en vir my in gebroke Engels vrae gevra ens. Een meisie het vir
my in Engels gevra: "Do you like a Japanees garden?" maar eintlik het sy gesê:
"Do you like a Japanees girl?" Toe sê ek ja! Toe was daar NOG meer chaos en ek
het gewonder hoekom gaan hulle so tekere net omdat ek van 'n tuin hou. Die
ergste was toe my pa vir hulle vertel dat ek klaar 'n meisie in SA het, het hulle
toe na mekaar gesê: "Then I'm number 2" en "And I'm number 3" ens. Dit was verskriklik.
Wat ook verbasend was, toe die laerskool kinders deur die skool geloop het as
'n toer, het al die kinders van die middel skool vanuit hulle klasse vir my gewaai
en wou my hand skud en het niks gesteur aan die onderwyser wat probeer om vir
hulle klas te gee nie. Toe ons in die motor klim om terug na die huis toe te ry,
het al die kinders uit die skool vensters gewaai vir my! |