Hallo
almal, my naam is Ashley Lange en ek word 10 jaar oud op 23 Mei 2005.
Ek
en my mamma en pappa het al ons vriende en familie gegroet en op 26 Januarie 2005
vertrek vanaf Jan Smuts Lughawe na Kanada. Ons het eers gevlieg tot op Frankfurt
lughawe en van daar na Kanada. Die vlug was baie lank gewees en ons het baie laat
die aand van 7 Januarie 2005 geland op die lughawe in Fort McMurray.
Ons
het in Suid-Afrika in Secunda gewoon. Dit is presies 27 000km van waar ons gebly
het tot hier waar ons nou bly. Ons dorp is omtrent 1 000km vanaf die Noordpool.
My pappa sê dit maak nie saak van watter kant van die aardbol jy omvlieg
om hier uit te kom nie, dit sal nog steeds 27 000km vêr wees.
Ek
is in die St. Anne Catholic School en het al nuwe maats gemaak by my nuwe skool.
Dit is lekker om met gewone klere en los hare skool toe te gaan. My juffrou is
ook baie vriendelik en help my baie. Ons skool begin 08:15 en kom 14:30 uit, dan
kom haal my mamma my. Ek kyk elke middag bietjie cartoons en dan begin ek met
my huiswerk. Noudat dit begin somer word gaan ons ook na die parkie toe.
Almal
wat hier bly is baie vriendelik en hulle hou baie van ons Suid-Afrikaanse aksent,
hulle sê dit klink vir hulle baie mooi. Dit sneeu hier in die winter en
dit kan tot -40?C word, dit is baie koud maar ons huise is lekker warm binnekant.
In die winter ski almal en dan moet jy lekker warm aangetrek wees met die regte
klere. Mens moet ook versigtig loop op die ys anders kan jy gly en val. Dit is
nou besig om somer te word en die sneeu het al baie gesmelt. Lente begin in Mei
en herfs in September. Ons het vir ons fietse gekoop en ry al lekker rond.
Die mense ry baie fiets of draf hier in die somer of geniet net die warm buitelug.
Omdat hier so baie bere is moet 'n mens beer-klokkies aan jou fietse vassit sodat
hulle jou kan hoor aankom. Hier is ook jakkalse en Moose wat rondloop. Die bere
slaap nog en sal eers later wakker word maar ek wil nie graag in 'n beer vasloop
nie want hulle gaan baie honger wees na die lang winter!
Op die oomblik
bly ons in 'n woonstel en kan ons nie diere aanhou nie. Ons is besig om vir ons
'n huis te laat bou en as ons ingetrek het gaan ek vir my 'n troedeldier kry.
Ek kan nie wag om my eie hondjie te hê nie. My mamma wil graag vir haar
'n kat kry sonder hare maar ek hou van 'n kat wat hare het.
Ek mis my ouma
en oupa-hulle vreeslik baie en kan nie wag om hulle weer te sien nie. My pappa
en mamma stuur darem vir hulle baie foto's van alles wat ons doen en ek gesels
ook met hulle oor die foon. Dit was 'n groot besluit wat ons geneem het om hierheen
te kom maar my pappa en mamma het gesê dat dit vir my 'n beter geleentheid
sal gee vir my toekoms, maar ek sal altyd 'n kind van Suid-Afrika bly.
Baie
groete, Ashley Lange
|