|
My naam in Jana Kotze. Ek is 9 jaar oud en bly vanaf 30 Desember
2008 in Kuala Lumpur. My sussie se naam is Lia en sy is 6 jaar oud.
My pa het kom werk hier in die Petronas "twin towers".
Ons geniet dit baie in Maleisië, maar ek verlang ook baie na
my oupas en oumas in Suid-Afrika. My ouma en oupa in die Kaap pos
elke week vir my en my sussie iets. Dit is baie lekker om pos in
die posbus te kry. Hulle het verlede jaar vir ons kom kuier en dit
was so lekker om hulle by ons te hê.
Ek gaan na 'n Britse Internasionale skool en dit was aan die begin
vir my baie moeilik om na die groot skool te gaan en heeldag na
Engels te luister. Ek het partykeer baie gehuil en huis toe verlang.
Ek het in SA graad 1 klaar gemaak en hier moes en die laaste kwartaal
van graad 3 begin, ek toe het baie werk gehad om in te haal. Ons
moes ook sommer vinnig gewoond raak aan al die verskillende kulture,
gelowe en kos. Dit is baie lekker om maats te hê van reg oor
die wêreld. My beste maats is van Engeland en Maleisië.
Ek het ook maats van Japan, Korea, die Ukraiene, Italië en
Denemarke. Ons het ook al dierbare maats van SA en party naweke
kuier ons saam en dan braai ons lekker.
Hier is 'n foto van my
en Lia by ons skool. Dit was internasionale dag. Ek wou graag soos
'n voortrekkerdogterjie aantrek en Lia het gehou van die Afrikastyl.
Die mense praat Bahasa Malay en ons het al baie gelag oor goed wat
verkeerd verstaan word. Ons het al geleer om 'n paar woorde te praat.
So nou kan my ma darem die regte petrol in die kar gooi en die regte
kos bestel. Maleisië is bekend vir baie lekker kos. My gunsteling
is nasi kandar, dit is rys en verskillende kerries wat op 'n piesangblaar
bedien word, dan eet mens met jou hand. Byna alle kos hier het chillies
in, maar ek en my sussie eet dit ook nou al en geniet dit baie.
My sussie eet graag roti chanai, dis 'n soort pannekoek wat mens
in kerriesous doop. Daar is nog baie soorte kos. Noedels en rys
is deel van alles. Die snaakste kos vir ons is 'n soort nagereg
wat gemaak word van fyn ys, daaroor gooi hulle verskillende strope,
mielies, swart bone en jellierige goed. Dit proe nogal lekker maar
ons het dit nog net een keer geëet. Die boontjies en mielies
proe te snaaks saam met die soet stroop.
Ons vier ook baie feeste hier saam met die Chinese, Indiërs
en Maleiers. Januarie is dit Chinese Nuwe Jaar en dit hou aan vir
6 weke. Dan skiet almal baie klappers om die bose geeste weg te
jaag. Dis 'n groot lawaai elke aand en ons slaap dan baie min. Die
jaar is die jaar van die Tier op die Chinese Kalender. In Augustus
is dit Ramadahn vir die Moslem mense. hulle mag dan vir 'n hele
maand net eet as die son sak en voor die son opkom. Dan kry mens
baie lekker kos by al die restaurante. Dan is daar ook Deepavalii,
die fees wat die Indiermense vier. Met elke fees mag ons die tradisionele
drag van daardie mense aantrek skooltoe. Ons leer baie van ander
mense en hulle leer van ons. Ons gaan Sondae na 'n Kerk toe in die
stad en my maats vra my baie uit oor wat ek glo.
Hier is nie vier seisoene nie, net 'n reënseisoen en 'n droë
seisoen. Dit is altyd warm. Ons swem elke dag, net as dit donderweer
mag ons nie swem nie. Ons moes ook gewoond raak aan die vreeslike
donderstorms, soms klink dit soos bomme wat val en die vensters
ratel. Teen vier uur in die middag begin dit gewoonlik reën.
In die droë seisoen reën dit minder as in die nat seisoen,
dan is dit monsoon en die reën val soos 'n gordyn. Baie vinnig
stroom die water dan sommer enkeldiepte in die pad af. Ons reën
baie nat, maar dis warm reën. Mens voel altyd taai en natgesweet,
maar na 'n rukkie word mens gewoond daaraan dan sweet mens nie so
baie nie.
Dan is daar ook al die lekker plekke waar 'n mens kan vakansie hou.
Ons was al by baie mooi eilande rondom Maleisië, Thailand,
Cambodia, Singapoer. En Oktober gaan ons Vietnam toe. Dit is lekker
om al die plekke te sien.
Maar die beste plek is nog Suid-Afrika. Ons sal seker nog een
jaar bly en dan teruggaan Kaap toe. Tot dan geniet ons alles wat
ons hier kan doen en leer.
Baie groete
Jana
|