"Marhaba,
ismi Lindie" ~ dit beteken "hallo, my naam is Lindie" in Arabies.
Ek bly al vir sewe maande in die Verenigde Arabiese Emirate. My Pappa is 'n diplomaat
en sy werk het hom na Dubai gestuur vir die volgende vier jaar. My
skool is in die woestyn! Dit is 'n nuwe gebou met sand oral om die skool. Ek neem
Engels, Frans, Arabies, Wiskunde, Ligaamsoefeninge, Musiek, Rekenaar en Kuns as
vakke. In Augustus sal ek na graad 5 toe gaan. Nou is dit nog lekker lang vakansie.
Ek verjaar ook een van die dae. Ek gaan my partytjie eers hou wanneer al my maats
terug is van hulle vakansies. My maatjies kom van Korea, Engeland, Finland, Amerika,
Kanada en Holland. Ek het ook 'n Arabiese maatjie van Egipte. Elke
dag waai die sand so baie, dat ek soms nie eers twee meter voor my kan sien nie.
Daar is vreeslik baie sandstorms hier en dit is ook te warm om in die son vir
twee minute te staan. Niemand wil eers na die see gaan nie omdat die water voel
soos badwater! My arme termometer kan net tot 50 grade gaan en dit is deesdae
al 46 grade! Oorkant
ons huis is daar 'n paar palmbome met lekker trosse ryp dadels op. Vanoggend het
ek 'n man gesien wat sommer opgespring het en 'n dadel gepluk het. Partykeer sien
ek groen sakke wat om die trosse gebind word deur die munisipaliteit. Dit is om
te keer dat die dadels op die straat val en dat voeltjies dit eet. In Dubai is
daar waterlorries wat soms die bome se blare afspuit omdat die sand en stof nie
mooi lyk op die blare nie. Die
wereld se duurste en ook 'n sewe ster hotel is hier in Dubai, naby ons huis. Die
hotel lyk soos 'n seilskippie en ek noem dit sommer die "skippie hotel".
Die regte naam van die hotel is Burj Al Arab wat beteken "perel van Arabie".
In die aande is daar by die ingang van die hotel groot vlamme wat elke nou en
dan opvlam en mooi lyk van ver af. Wanneer dit doker raak kan 'n mens ook wit
liggies sien wat dans teen die gebou voordat elke vloer 'n kleur verandering kry
wat aan en af gaan. Meestal is dit blou, pers, pienk, geel, rooi en groen. Ek
verlang na al my maatjies in Pretoria en ek verlang ook na my ou skool. Soms stuur
ek briewe of poskaarte vir my maats. Ek raak baie opgewonde wanneer ek sien dat
ek ook 'n brief kry. Groete
van Lindie Botes |