2009-10


jongklomp

vonkelfiksie

Storiewerf skryfkompetisie 2009
Eensame drome

Ayla Malan

Swoosh…plop, plop, plop…ssshhh…
Die sagte gedreun van golwe wat saggies teen swart rotse breek, en êrens drup daar 'n paar verlate druppels in klein rots poeletjies in die grot. Soms klink dit selfs asof daar iemand tussen die golwe sing.
Hier kan ek dink en van alle probleme vergeet. Soms droom ek dat ek in 'n gewone huis kan woon en gewone kind-dinge doen, nie in asblikke moet rondkrap vir kos en klere nie.
"Help, help!"
Ek kyk op. Droom ek? Nee, daar hoor ek dit weer. Ek spring op en volg die smekende stem oor die rotse. Dan sien ek iemand in die water spartel. Maar wag…die meisie het 'n visstert! Ek staan oopmond en staar. Sy draai om en sien my staan.
"Help my, asseblief!" pleit sy.
Ek skud my kop om seker te maak dat ek nie droom nie.
"Asseblief…" smeek sy terwyl sy moeisaam spartel.
Ek bekyk haar weer en besef dat sy in 'n sterk visnet vasgevang is, en dat sy op plekke bloei. Doelgerig soek my oë na iets skerp. Gelukkig - 'n stukkende wynglas! Ek hardloop na die glas toe, en is binne sekondes in die water oppad na die meermin.
By haar aangekom, duik ek gou onder die water in en begin om die visnet met die skerp kant van die glas te sny. 'n Paar minute later is die meermin vry en begin sy om van pure blydskap sirkels om my te swem.
"Dankie! Baie dankie, dat jy my lewe gered het! My naam is Desiré. As jy enige wens kon maak, waarvoor sou jy wens?" Terwyl die son op haar goue stert skyn, weerkaats die reënboogkleure in die water.
"My grootste wens is dat ek en my ma ons eie huisie het om in te woon en dat ons nooit weer hoef te bedel vir kos en klere nie. My ma sukkel om 'n vaste werk te kry omdat sy kreupel is."
Desiré glimlag en sê vir my: "Hoekom kom woon julle dan nie by my en my familie in die see nie?"
Ek dink vir 'n oomblik na. "Kan ons regtig?" vra ek huiwerig, doodseker dat sy besig is om met my die gek te skeer.
"Natuurlik!" roep sy uit en neem my hand. "Gaan roep jou ma, en bring haar dadelik hierheen. Ek sal net hier vir jou wag."
Ek swem gou weer terug na die rotse, en hardloop so vinnig moontlik na my ma toe. Sy kyk my met groot oë aan.
"En nou, Laura?" vra sy bekommerd.
"Ma, ma moet gou saam met my kom. Ek het die perfekte veilige plek gekry waar ons kan woon!" Ek gryp haar hand en trek haar saam.
My ma gee 'n diep sug, "Nou maar goed dan, Laura, anders gaan ek nooit die einde hiervan hoor nie!" Ek glimlag breed.
"In 'n GROT ?!?" vra sy my geskok toe ons om die hoek van die grot stap.
"Nee!" sê ek gou, en sleep haar verder verby die rotse. Tot my verligting sit die meermin daar op 'n rots. Ek kyk in afwagting na my ma - sy lyk stomverbaas!
"Ons gaan saam met haar, Ma!" en stap met my ma die bruisende water in. "Hier is ons, maar hoe gaan ons onderwater asemhaal?" Desiré glimlag net.
Skielik voel ek 'n gejeuk in my bene en kyk af - uit die hoek van my oog sien ek dat my ma dieselfde doen. My bene verdwyn, en 'n donkerpers stert begin verskyn. By my ma, 'n pragtige liggroene.
Ek lag van vreugde, terwyl my ma begin om te juig. "Die pyn in my bene is weg!" huil en lag sy. Dis die eerste keer in 'n lang tyd dat ek haar weer hoor lag.
"Kom," sê Desiré, "Ons gaan huis toe." Saam duik ons onder die koel water in, en ervaar die vreemde gevoel van die onbekende sterte.
En toe ons deur die laaste brander duik, hoor ek skielik weer die pragtige liedjie wat ek so baie keer in die grot gehoor het. Skielik verstaan ek. Dit was Desiré wat altyd vir my gesing het, en my na 'n gelukkiger lewe geroep het.

Ayla Malan (15).
Die storie was 'n wenner in Storiewerf Vonkelfiksie 2009
Senior (hoërskole): 14-18 jaar

Terug na Vonkelfiksie
Al die wenverhale

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2009