2009-10


jongklomp

vonkelfiksie

Storiewerf skryfkompetisie 2009
In die tyd van fietse en pap bande

Dalene de Vente

April 1990

Liewe Ma
Ek hoop Mamma se Desembervakansie was fantasties. Ek het nooit eers gevra nie. Dit moes seker maar dodelik koud gewees het daar in die Noordpool, of hoe? Hier was dit weer dodelik warm. En ek het verlang. Na jou, na Pa, na die tyd voor ons sulke skewe lewens gehad het. Die Huis is toe nie so slegte plek nie. Eintlik is Pretoria nie so 'n slegte plek nie.

Ek stop en skeur die brief. Dis vervelig.
Ma lees tog nooit die goed nie. En ek gaan nie huil nie, besluit ek. Daar is beter dinge om te doen.
Ek gaan vra toestemming om te gaan stap.

Ek het nog nie eers by Julian se huis gestop nie of hy maak die deur oop. " Hey." Groet ek skaam. "Hallo daar, jong, hoe gaan dit?"
"Goed. Dankie. Met jou?"
Hy wys sy duim op en vat onmiddellik die fiets uit my hand, en ons stap deur die huis na die tuin.
"Watse band is nou weer pap?"
"D-Die voorste een."
Hy kyk 'n oomblik vir my en glimlag. Ek knyp myself om seker te maak ek droom nie.
Dit het alles gistermiddag begin na skool toe ek by die fietsloods gestaan het. Ek het hopeloos gestaan en kyk vir die spyker in my wiel. Skielik het iemand agter my gepraat en ek het vasgekyk in een van die matriekouens se gesigte. "Ja…jy's nie die enigste een nie," sê hy en wys na sy fiets se wiel. "Een of ander aap het seker weer probeer snaaks wees."
Ek knik moedeloos. Die lewe moet ook altyd vol van pretbederwers wees.
"Ek is Julian," stel hy homself uit die bloute voor.
"Ek is Iris."
"Haai Iris.Jy sal nie met die fiets kan terugry huis toe nie, ek hoop jy weet?"
"Ja. Ek weet."
"Het jy iets om dit reg te maak - die band bedoel ek?"
"Nee."
Hy haal 'n pen en 'n papier uit ek skryf iets daarop. "Hier," sê hy en gee dit vir, "Dis my huisadres. Kom moremiddag so drie-uur dan maak ek dit vir jou reg."
En hier staan ek nou.
"So, het jy nie 'n broer of ding wat jou fiets kon regmaak nie?"
"Nee."
"Enigste kind?"
"Ja."
"Ek ook."
Ek sê niks vir hom verder nie. As hy moet weet…
"Eintlik is ek nie heeltemal die enigste kind nie."
"Wat bedoel jy?" vra ek fronsend
"My broer en suster woon by ander mense, ons is almal aangeneem, sien."
Ek vries vir 'n oomblik.
Hoe kry hy dit reg om dit so kalm vir my te sê? Sommer so. Asof dit allerdaags is.
Ek het niks verder gesê nie. Hy ook nie.
Dis eers twee ure later toe my band uiteindelik weer reg is en ek gereed is om weg te ry toe hy weer begin praat. "Iris…dit was ek gewees…"
"Hoe nou?"
"Ek het die spyker in jou band gesteek en gewag tot jy kom. Ek hou jou al so lank dop en toe hoor ek dat jy in die kinderhuis woon… Ek moes jou net leer ken. Ek wil so graag iemand ken wat dit verstaan hoe dit voel om ouerloos te wees. Okei. Dis nie heeltemal dieselfde nie, ek het aanneem ouers, maar nogsteeds. Jy lyk soos 'n wonderlike mens en... ek is jammer as ek jou fiets se band stukkend gemaak het. Maar ek is glad nie spyt daaroor nie."
Ek kry amper trane in my oë. Ek kan hierdie ou hier voor my bespring van blydskap, dink ek by myself.
Ek weet nie of hy dit besef nie, maar hy't meer as net 'n fietsband reggemaak…

Dalene de Vente (15).
Die storie was 'n naaswenner in Storiewerf Vonkelfiksie 2009
Senior (hoërskole): 14-18 jaar

Terug na Vonkelfiksie
Al die wenverhale

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2009