2009-10


jongklomp

vonkelfiksie

Storiewerf skryfkompetisie 2009
Die Silwer Maanperd

Firn Caitlin Hyde

Ster loop stadig en kaalvoet langs die strand. Die branders is groen perde met wit maanhare.
Dit is nog altyd hoe Ster aan die branders gedink het: perde. In Ster se oë is die wêreld 'n perd. Die son is 'n geel perd, die maan haar silwer vulletjie wat trippel oor die nag.
Ster se enigste probleem is dat sy nie 'n perd het nie. Haar pa is 'n visserman en hy kan nie een bekostig nie.
Partymaal sê Ster vir haarself dat sy 'n perd in 'n mens se lyf is. Sy kan runnik soos 'n perd. Tot haar naam klink soos 'n perd s'n.
As ek 'n perd was, dink sy, was ek 'n roomwit perd, met pikswart maanhare.
Pronkend draf Ster huis toe. Sy begin eers galop op die koeipadjie oor die gras. Rook trek stadig uit die skoorsteen.
"Mamma, ek's terug!" bulder Ster terwyl sy deur die kombuis galop.
"Stadig, perdjie!" lag Mamma. Mamma noem haar altyd perdjie. Dit laat haar meer soos 'n perd voel as in haar speletjies, want as Mamma haar 'n perdjie noem, dan is sy een.

Die son sink oor die see en die nag kruip met koue swart pote oor die lug wanneer Ster onder haar lappieskombers inklim.
In die nag maak 'n geluid haar wakker.
Daar is dit weer. Ster klim uit. Dalk het meneer Wyk se merrie, Kappie, ontsnap. Dit is so lekker as sy in die tuin kom, want dan klim Ster op haar rug. Dan draf Kappie en Ster huis toe.
Ster loop deur die huis tuin toe. Die sterre wink in die donker.
Daar hoor sy weer die geluid, en begin draf.
"Kappie!" sing Ster. "Kappie - "
Sy vries.
Die perd is definitief nie Kappie nie. Sy oë is die kleur van die winterlig. Sy maanhare se punte vee oor sy skouer, so saggies soos 'n windjie. Sy stert raak aan die grond, sy lyf is die silwer kleur van die volmaan. Hy glinster en sy hoewe is 'n paar sentimeter bo die grond. Hierdie is nie 'n aardeperd nie. Dit moet 'n towerperd wees.
Daar staan hy, so naby, so ver. So wonderlik is hy, so groot en so wild, so briljant soos 'n ster se droom.
En hy is 'n ster se droom, maar die Ster is 'n menskind.
"Goeienaand," sê die perd.
"Jy's nie 'n droom nie?" Ster wil skaars beweeg… netnou is hy weg soos die skadu van 'n wind.
Die silwer perd kom staan naby aan Ster. Sy asem ruik soos gras en suiker. Dit is 'n regte perd se asem.
"Ek is 'n droom," sê die silwer perd. "Ek is Sterredroom."
Hy gaan lê. "Kom!" sê hy, en sy stem het 'n laggie in. "Kom hoor die lied van die sterre! Kom luister na die klop van die maan se hart!"
Ster glip op sy rug. En vinnig galop Sterredroom weg. Hy klim in die lug in. Hy galop oor die silwer see, sy hoewe trap die water…

Daar is 'n klein huisie op die strand.
'n Groot silwer perd draf na die huisie toe. Na 'n rukkie hardloop 'n menskind kaalvoet uit.
"Waar gaan ons vanaand, my liewe een?"
"Waar ookal jou hoewe ons vat."
Die silwer maanperd is weg oor die see op nog 'n aand van avontuur.
Verlang jy na 'n perd wat jy nooit sal kry nie?
As jy 'n proesende perd buite hoor in die nag, loer by jou venster uit. Dalk wag Sterredroom daar.

Firn Caitlin Hyde (12).
Die storie was 'n wenner in Storiewerf Vonkelfiksie 2009
Junior (laerskole): 10-13 jaar

Terug na Vonkelfiksie
Al die wenverhale

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2009