2009-10


jongklomp

vonkelfiksie

Storiewerf skryfkompetisie 2009
'n Tand vir 'n tand

Sarina Pottas

Die oomblik toe ek voor die huis stilhou, weet ek dis die regte plek - net een mens wat ek ken speel sy Bach só hard! Om te sê ek ken hom is miskien 'n effense oordrywing. Jy sien, hy is een van dáárdie soort mense wat jy jare lank ken sonder om hom wérklik te ken.

Op universiteit was hy maar net daar, altyd, op die buiterand ver van die res van ons. Jy het hom gesien en selfs geruik, maar nooit gehoor nie. Joop Theron, die tandheelkundestudent met sy skewe tande, spinnekopbene, sproete, rooi borselkop en prominente adamsappel. Opvallend afwesig in weerwil van sy teenwoordigheid.

Joop was nooit in die koshuis nie. Hy het van buitekamer tot buitekamer geswerf. Hy het die slag gehad om elke nuwe blyplek binne 'n dag of twee te laat lyk asof hy al sy lewe lank daar woon: klere op die vloer, vragte boeke in die hangkas, rye vrugteflesse met pofadders, luislangembrio's in formalien, konfytblikke met Boesmanboudjies en diverse ander onsigbare bronne wat oos, wes en suid weglei na tamaai luidsprekers toe.

Ek het geklop, later gehamer, tot 'n ouer weergawe van Joop my begroet het. Daar was 'n vuur in die kaggel, 'n duisternis luidsprekerdrade, boeke, cd's en twee ballasmandjies vol dennebolle.

Hy is nog ongetroud en is nie meer 'n tandarts nie, nee. Tandemaker. Hy het glo moeg geraak vir ander se tandbederf. Nou sit hy liewer die SPRANKEL terug in mense se monde sodat hulle die lewe weer bekvol kan aanvat.

'n Swak stel kunstande is érger as tandpyn, stel hy my gerus met 'n stel botande wat hy uit die dennebolmandjie gegrawe het. Was glo Dawie Morkel s'n. Joop bestudeer die opgefoeterde tande en gooi dit in die vuur. Ek sit verbysterd en kyk hoe die vuur Dawie se gepynigde glimlag verteer. Die goed brand soos petrol!

Elke paar minute vat Joop 'n paar dennebolle en gooi dit in die vuur. As daar 'n gebit by is, bekyk hy dit en vertel my van die tande se eienaars. Ons sit en kyk hoe Miems Momberg, Steve Hofmeyer , Pastoor Piet en 'n lang ry ander onbekendes, beroemdes en berugtes se gebit hulle pad vind na die vuur.

Ek sit gehipnotiseerd en kyk hoe die hars skielik vlamvat en voortand vir voortand, oogtand vir oogtand, kiestand vir kiestand, verdwyn… Soos gedoemde siele in 'n onverwagte vaevuur.

Die simfonieë van Bach weergalm nog lank in my. Tussen die meester se polifoniese stereo en gesellige vaevuur, is hy doodtevrede. Skewe tande en al…

Sarina Pottas (18).
Die storie was 'n naaswenner in Storiewerf Vonkelfiksie 2009
Senior (hoërskole): 14-18 jaar

Terug na Vonkelfiksie
Al die wenverhale

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2009